

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 April 2013
Sowat 10 dae ná die telefoonkabels by Laerskool Louis Trichardt in die slag gebly het, nadat ‘n munisipale tru-grawer operateur ‘n waterlek wou herstel, is die kommunikasielyne herstel. Die skool is dankbaar dat daar sedert 18 April weer kommunikasie is en bedank Telkom vir die flinke diens.
Die slote en gepaardgaande hope grond op die sypaadjie voor die skool in Erasmusstraat is egter steeds ‘n kopseer. Dit het tot gevolg dat daar ‘n groot gesukkel met parkering in die oggende en middae is. Kinders kruis die straat nou meer dikwels, wat ‘n verhoogde gevaar van ongelukke inhou. Die Makhado Munisipaliteit het al gedurende die Aprilvakansie slote begin grawe om elektriese kabels te lê. Vir die afgelope week staan die werk egter stil.
‘n Paar Graad 7’s het hulle siening van die gevolge van die halfklaar werk gegee. “Daar is nou min parkering en jy moet maar vroeg kom. Een keer het my boetie net so voor die sloot in die modder gestruikel,” sê Tabea Schuch. Dohan Smit sê dat sy ma nou ver moet stop. “Dit maak dat die kinders nou meer oor die strate loop, want hulle kan nie in die modder loop nie,” sê Dohan. DJ du Preez sê dat hy lanklaas iemand gesien het wat aan die slote werk. "My ma moet aan die oorkant stop en ons moet die straat kruis. As dit reën, is daar baie modder en die kinders word vuil,” sê DJ.
Dieselfde tyd wat die telefoonkabels dit ontgeld het, is ‘n posbus van die poskantoor ook ontwortel en beskadig. Die Makhado Munisipaliteit het hierdie week die Zoutpansberger se navrae beantwoord. Die munisipaliteit het gesê dat hulle nie die naam van die operateur van die tru-grawer gaan bekendmaak nie. Die versoek van die poskantoor aan die munisipaliteit op 8 April om amptenare met outoriteit uit te stuur om die beskadiging te besigtig, is nie toegestaan nie. Die munisipaliteit voer aan dat “alle amptenare met outoriteit in daardie stadium besig was met belangrike en dringende sake.” Die munisipale woordvoerder, mnr. Lous Bobodi, het verder gesê dat enige persoon of instansie wie se eiendom deur die munisipaliteit beskadig word, die munisipale bestuurder skriftelik daarvan in kennis moet stel.
Die munisipaliteit kon teen druktyd nog nie sê wat die oponthoud met die werk van die munisipaliteit in Erasmusstraat veroorsaak of wanneer die slote toegemaak en die sypaadjie herstel sal wees nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
