

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 April 2013
‘n Vermeende dief het sy rieme styf geloop toe hy glo geld by ‘n kitsbank in Makhado (Louis Trichardt) probeer steel het.
Die 30-jarige Thabelo Ndou is verlede Vrydag gearresteer tydens ‘n gesamentlike operasie deur die Makhado Polisie, die Soutpansberg Dorpswag en personeel van die bank wat hy probeer beroof het. Ndou het Maandag in die Distrikshof verskyn op ‘n klag van diefstal.
Volgens inligting verskaf het Ndou ‘n spesifieke kitsbank by die Standard Bank in Kroghstraat geteiken vir die afgelope maand. Hy het glo met vuurhoutjies die spesifieke masjien se geldgleuf geblok. Klante wat probeer geld trek by die kitsbank se kontant hoop dan op binne die tellermasjien en Ndou sou dit dan later met behulp van ‘n stuk draad uit die gleuf trek.
Standard Bank se personeel het begin onraad vermoed toe die betrokke kitsbanke pal probleme gee. Vrydag het hulle die hulp van die polisie en die dorpswag ingeroep en ‘n lokval gestel. Verdere ondersoek sal nog gedoen moet word om te bepaal of Ndou alleen opgetree het en of hy ook verantwoordelik gehou sal word vir die ander kitsbanke wat gebreek is.
Volgens die woordvoerder van die Makhado Polisie, kapt. Maano Sadike, vermoed die polisie ook dat Ndou moontlik betrokke kan wees by ander soortgelyke diefstalle by van die ander kitsbanke op die dorp. Sadike het ook sy waardering uitgespreek teenoor die dorpswag wat die polisie bygestaan het. “Die polisie waardeer elke poging wat daarop gemik is om misdadigers vas te trek,” het hy gesê.
Ndou se saak is intussen uitgestel tot 30 April vir verdere ondersoek en hy sal in aanhouding bly tot dan.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
