ADVERTISEMENT:

 

´n Gru-gesig, wat al te bekend word in Suid-Afrika. Hierdie is een van drie renosters op mnr. Wulf Schwerdtfeger se plaas wat sowat twee weke gelede doodgeskiet is vir hul horings. Foto verskaf.

Nog renosters word afgemaai

 

News  Date: 26 April 2013

 

Nóg drie van die Soutpansbergstreek se renosters is afgemaai vir hul horings.

Drie renosterkarkasse is Vrydag, 12 April, op die plaas Miss Emily van mnr. Wulf Schwerdtfeger ontdek.

Die drie renosters loop al vir die afgelope 13 jaar op Schwerdtfeger, wat met beeste en wild boer in die Bandelierkop-omgewing, se plaas. Hy het op die eerste renoster se karkas afgekom terwyl hy op 12 April besig was om buffels vanuit ‘n helikopter te pyl.

Schwerdtfeger het dadelik ondersoek gaan instel en het onraad vermoed  toe hy opmerk dat die dooie renoster nog albei sy horings gehad het. “Die renoster is doodgeskiet,” het Schwerdtfeger gesê.

Bekommerd het hy dadelik ‘n span bymekaar gemaak om te help soek na sy ander renosters op die plaas. Die donker het egter die soekgeselskap gekniehalter en hulle kon eers weer die daaropvolgende dag verder soek. ‘n Helikopter is ook ingespan om te help soek en nog twee karkasse is gekry. Altwee hierdie renosters se horings was verwyder.

Schwerdtfeger sê daar word vermoed dat die renosters alreeds die vorige Woensdag geskiet is. Die derde renoster, meen hy, het dalk te ver weggehardloop vir die stropers om in te haal en daarom was die horings nog aan die karkas gewees. 

Schwerdtfeger beraam sy verlies op sowat R1.2 miljoen.

Dié hartseer voorval het Schwerdtfeger genoop om sy oorblywende renosters te vang en na ‘n plek van veiligheid te skuif tot tyd en wyl hy hulle kan verkoop.  “Ek het met ‘n traan in die oog afskeid geneem van die laaste renoster en die laaste renosterspoor wat diep in die klam Bandelierkopsand getrap is,” het hy gesê.

Schwerdtfeger het gal gebraak oor die wetgewing rondom renosterjag en die verkoop van renosterhorings. Volgens hom is die enigste uitweg dat die regering dringend dié wetgewing verander. “Jou renoster, jou eiendom, wettig bekom, maar jy het geen seggenskap oor jou eie renoster nie.”

Intussen het die Makhado Polisie bevestig dat daar ‘n saak ondersoek word. Teen druktyd is daar nog geen arrestasies gemaak nie.  Volgens die Departement van Omgewingsake se jongste statistieke is daar sedert die begin van die jaar af tot 3 April landswyd alreeds 203 renosters doodgemaak vir hul horings.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines