ADVERTISEMENT:

 

Die rondloper-olifant wat op die Pretoriusse se plaas geskiet is deur ´n natuurbewaarder, na bewering sonder toestemming òf die nodige permite. Foto verskaf.

Boer erg ontstoke ná bewaarder olifant skiet

 

News  Date: 29 April 2013

 

‘n Boer van die Mopani-omgewing is ontstoke, nadat ‘n natuurbewaarder van Musina ‘n rondloper-olifant sondermeer op sy plaas doodgeskiet het. Mnr. Pieter Pretorius, mede-eienaar van die plaas Honeymoon, het hierdie week begin om regstappe teen die Departement van Omgewingsake te neem.

Pretorius, wat in Mokopane bly, besit die plaas saam met sy broer Martin. Hulle pa het verlede week by die plaas se jagkamp gebly en het die olifant vir die eerste keer gesien. Dit was Dinsdag en hy het dadelik vir Pieter gebel om hom te vertel dit is darem nie aldag wat daar 'n olifant op hulle plaas gesien word nie.

Pieter sê hy het dadelik begin uitvind waar die olifant vandaan kom. Van wat hy kon uitvind het die rondloper -olifant op sy plaas, saam met nog twee olifante, oor die grens vanaf Zimbabwe gekom.

So met die navraag het ‘n buurman, wat wel olifante op sy plaas het, gesê hy is bereid om die bul te kom haal en dat hy vir al die nodige verskuiwingspermitte sal aansoek doen “sommer nog dieselfde dag.”

Hier, sê Pieter, het die Departement van Omgewingsake egter hulle planne in die wiele gery. Die hoof van Omgewingsake in Musina het, nadat Pieter die situasie aan hom verduidelik het, na bewering geweier om ‘n permit uit te reik sodat die olifant geskuif kan word. “Hy [die natuurbewaarder] het vir my gesê daar sal geen permit uitgereik word om hom [die olifant] te skuif nie; hulle reik eerder vir jou ‘n skadepermit uit en dan kan jy hom [die olifant] laat jag,” het Pieter gesê.

Volgens Pieter het selfs die provinsiale kantoor van Omgewingsake in Polokwane geweier om ‘n verskuiwingspermit aan hom uit te reik. Sy enigste keuse, sê Pieter, was dus om die olifant òf self te skiet òf te laat skiet, maar nie alvorens Omgewingsake ‘n skadebepaling gedoen het en ‘n permit uitgereik het vir die skiet van die olifant nie.

So gesê, so gedaan. Volgens Pieter is daar met hom ooreengekom dat ‘n natuurbewaarder Vrydag (19de) na die plaas sou kom om die skade te bepaal en daarna ‘n permit uit te reik.

Dié amptenaar, wat nog nie geïdentifiseer kan word alvorens daar ‘n formele klag teen hom geformuleer word nie, het wel die plaas besoek. Hy het saam met Pieter se pa tot middagete na die olifant gesoek, en toe van Pieter se spoorsnyers geleen om weer verder na die olifant te gaan soek. Pieter se pa het by die kamp agtergebly.

“… en 20 minute later hoor my pa twee skote. Hier skiet hy [die beampte] hom [die olifant] dood,”sê Pieter. Terwyl die bewaarder nog op die plaas was, het Pieter hom gebel. “Toe word dit skielik my olifant,” sê Pieter.

Die amptenaar het glo eers vir Pieter gesê dit is nie Pieter se olifant nie en dat hy dus nie ‘n sê het nie. Dit was toe Pieter vir die amptenaar sê dat die olifant ook nie aan die amptenaar behoort nie, dat die amptenaar na bewering om verskoning gevra het en aangebied het dat Pieter nou maar eienaarskap mag vat van die olifant.

“Ek is woedend. Ek wou in die eerste plek nie die olifant skiet nie, maar skuif. Hoekom wou hulle nie gehad het dat ek die olifant skuif nie?” wou Pieter weet. Hy was bereid om alle kostes te dra vir die verskuiwing van die olifant.

Intussen het Pieter aangedui dat hy ‘n klagte by die polisie gaan lê het teen die amptenaar se optrede. Sy prokureurs het ook ‘n klagte by die departement teen die amptenaar ingedien. 

Teen druktyd was die Zoutpansberger se navrae oor die voorval  aan die provinsiale woordvoerder van die Departement van Omgewingsake, mnr. Lucky Phosa, nog onbeantwoord.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines