

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 May 2013
Die Makhado Munisipaliteit se finansiële praktyke is deurspek van “bestuursblapse”.
Die skokkende toedrag van sake by die munisipaliteit het aan die lig gekom tydens ‘n vergadering van die munisipale komitee vir openbare rekeninge ten opsigte van die ouditeur-generaal (OG) se verslag vir die munisipaliteit se 2011/12 finansiële jaar.
Die komitee het op 10 April by die munisipaliteit vergader en die OG en die munisipaliteit se munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, gepeper met vrae oor die munisipaliteit se geldsake. Veral blatante onreëlmatighede wat betref sekere aankope van die munisipaliteit is uitgelig tydens die vergadering.
In die 2011/12 finansiële jaar het die munisipaliteit glo R33 169 661 spandeer aan dag-tot-dag uitgawes, soos salarisse, weens "ernstige finansiële uitdagings." Dié bedrag is glo begroot om as toelae te gebruik vir ontwikkelingsprojekte. Volgens Mutshinyali het die munisipaliteit ook van hierdie geld gebruik om munisipale diensverskaffers soos Eskom te betaal.
'n Verdere misdryf, wat die komiteelede dwars in die krop gesteek het, was vorige finansiële jare se foute wat nooit regmaak is deur die munisipaliteit se boekhou-afdeling nie. Een so ‘n onreëlmatigheid was JoJo watertenks wat die munisipaliteit aangeskaf het. In 2002 het die munisipaliteit twee 10 000l tenks aangeskaf vir onderskeidelik R2 300 en R581.23. Nog ‘n 5 000l tenk is in dieselfde jaar vir R100 gekoop. Drie jaar later het die munisipaliteit nog ‘n 10 000l tenk gekoop vir ‘n winskoop teen R150.
Die munisipaliteit het tydens die vergadering vinger gewys na die Vhembe Distriksmunisipaliteit en plaaslike verbruikers wat nie hulle munisipale rekening vereffen nie. Dit, het Mutshiyali herhaaldelik gesê, is maar net een van die vele “uitdagings” waarmee die munisipaliteit worstel. Talle van die foute wat uitgewys is aan die munisipaliteit is, volgens Mutshinyali, foutjies wat die bestuur gemaak het.
Hy het die komitee egter die versekering gegee dat die finansiële klerke gestuur is vir opleiding om te verseker dat hulle weet hoe om al die veranderings in die boekhoustelsel van die munisipaliteit behoorlik toe te pas.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
