

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 May 2013
Die Makhado Munisipaliteit se geldsake is steeds wankelrig en kommerwekkend.
Die munisipaliteit se finansiële state vir die boekjaar wat op 30 Junie 2012 geëindig het, was van so ‘n aard dat die ouditeur-generaal (OG) weereens sy ouditmening weerhou het.
Die Zoutpansberger het by ‘n plaaslike kenner gaan kers opsteek oor die bevindinge van die OG. “Dit beteken dat onsekerhede waarvoor die OG nie voldoende ouditbewyse kon vind nie, so wesenlik is dat dit nie vir die OG moontlik is om ‘n mening oor die finansiële state te vorm nie. Dus spreek die OG geen mening oor die finansiële state uit nie,” sê me. Dodrie Corbett (GRSA), van die rekenmeestersfirma Nel, Havinga en Corbett.
Corbett sê ook dat daar geen beduidende verbeterings in 2012 op die 2010/2011-ouditverslag is nie. Die OG het ook sy mening weerhou in die verslag oor die boekjaar eindigende 30 Junie 2011.
“In die basis vir ‘n weerhouding van mening sê die OG, net soos in 2011, dat voldoende ouditbewyse nie gevind kon word om hulself te vergewis van die korrekte voorstelling van die syfers vir die balanse van eiendom, aanleg en toerusting, bank en kontant, asook debiteure en krediteure nie. Die balanse kon dus meer of minder op die jaareinde gewees het,” sê Corbett en wys op ‘n paar punte in die OG se mees onlangse verslag:
* Wat kapitale aanspreeklikhede betref, is daar nie ‘n kontrakbeheersisteem in plek vir die identifisering en erkenning van kontrakte nie. Daar kon nie voldoende ouditbewyse gevind word om te verseker dat kontraktuele verpligting van meer as R47 miljoen deur die munisipaliteit te boek gestel is nie. (In 2011 was dié bedrag meer as R24.5 miljoen).
*Die munisipaliteit het R124.2 miljoen meer aan uitgawes gespandeer as wat goedgekeur is volgens die begroting in terme van Artikel 15 van die MFA (Municipal Finance Act). Die ongemagtigde uitgawes is nie behoorlik in die finansiële state geopenbaar nie. Die nota in die finansiële state verwys slegs na R57.8 miljoen se ongemagtigde uitgawes. ‘n Verdere R33.1 miljoen se ongemagtigde uitgawes is aangegaan deurdat voorwaardelike toelaes (conditional grants) aangewend is vir uitgawes anders as waarvoor die toelaes geoormerk was.
*Verskeie maatreëls wat geneem is om prestasie te verbeter, is nie behoorlik geopenbaar soos wat deur Artikel 46 van die Local Government Municpal Systems Act, 2000 vereis word nie. Dit word toegeskryf aan die feit dat alhoewel die bestuur bewus was van hierdie vereistes, hulle nog nie die nodige opleiding ontvang het om hieraan te voldoen nie.
*Ten opsigte van die begroting het die OG bevind dat die rekenkundige beampte nie die finansiële prestasie van die eerste helfte van die finansiële jaar geassesseer het soos wat deur Artikel (72) (1) (a) (ii) van die MFMA vereis word nie.
*Goedere en dienste ter waarde van R200 000 is verkry sonder dat die nodige kwotasies, soos wat vereis word deur SCM (Supply Chain Management) regulasie 17(a) en (c), verkry is.
*Kontrakte is toegeken aan persone in diens van ander staatsinstansies of aan direkteure of aandeelhouers van maatskappye in diens van staatsinstellings. Dit is ‘n oortreding van SCM regulasie 44. Soortgelyke toekennings is ook in 2011 gemaak en geen effektiewe maatreëls is getref om misbruik van die SCM proses te verhoed nie.
*Die OG sê dat die rekenkundige beampte nie alle redelike stappe geneem het om te keer dat ongemagtigde uitgawes aangegaan word nie en dat daar nie ‘n effektiewe interne beheerstelsel in plek was vir die bates van die munisipaliteit, insluitende ‘n bateregister, nie. Dit word vereis deur Artikel 63 (2)(c) van die MFMA.
*Dit is die verantwoordelikheid van die bestuur om toereikende en doeltreffende beheermaatreëls in plek te stel om foute te voorkom. Die rekenkundige beampte en die ouditkomitee oefen nie voldoende beheer uit om oplossings te implementeer nie. Dit het tot gevolg dat die aanbevelings van die ouditkomitee nie geïmplementeer word nie, wat daartoe lei dat daar basies dieselfde tekortkominge in die ouditverslag ten opsigte van interne beheer, leierskap en bestuur uitgelig word as in die vorige jaar.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
