

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 May 2013
Die 73-jarige mev. Issie Combrink van Makhado (Louis Trichardt) is “verheug” oor die uitspraak in die Noord-Gauteng Hooggeregshof dat haar arrestasie in Januarie 2008 en die polisie se besluit om haar te vervolg onregmatig was.
Combrink het hierdie week gereageer op die Hooggeregshof se uitspraak op 19 April dat die polisie skadevergoeding ten bedrae van R60 000 moet betaal, asook die bykans R13 900 se regskoste wat sy gehad het ten opsigte van die polisie se aanvanklike strafsaak teen haar (sien meegaande Engelse berig).
“Toe hulle [die polisie] my kom vat het by die huis en voor my plaasmense het ek so verneder gevoel,” het Combrink Maandag gesê. Die volgende oggend het sy opgemerk hoe mense verby haar sakeperseel ry en met agterdog na haar loer. Selfs in winkels, sê sy, het mense haar voorgekeer met die woorde: “Ons hoor jy was in die tronk!”
“Op grond van hierdie vernedering het ek gesweer ek gaan die saak nie hier laat nie,” het Combrink gesê. Sy het vertel hoe stomgeslaan sy was met die polisie se aankoms by haar om haar te arresteer net meer as vyf jaar gelede.
“Alles het onwerklik gevoel. Ek het nie besef wat aan die gebeur is nie, totdat hulle my by die draadhok by die polisieselle ingevat het. Dit was eers toe dat die realiteit dat hulle my gaan toesluit, ingesink het,” het Combrink gesê.
Die haglike toestande waarin sy en mede-aangehoudenes in die selle moes bly, was vir haar verskriklik. “Vuil vertel ek jou ... hulle [die mense wat reeds in die selle was] het sekerlik vir dae nie water gehad nie. En die reuk ... dit was ondraaglik,” het Combrink gesê.
Na afloop van die hofuitspraak in haar guns het Combrink gesê dat dit nooit vir haar gegaan het oor die geld nie. Haar eie hofkoste beloop meer as R100 000. Dié het sy reeds betaal, met haar regsverteenwoordiger wat gaan probeer om dit van die Minister van Polisie en die twee betrokke polisiebeamptes te verhaal.
“Al betaal hulle elk net R10 uit hul eie sakke, is ek bly. Wat hulle gedoen het, was onwettig en onregverdig,” het Combrink gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
