

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 May 2013
‘n Toetsrit in ‘n nuwe boot het laas Sondagmiddag byna ‘n noodlottige einde gehad vir twee inwoners van Levubu.
Boothengelaars van regoor die streek het die afgelope naweek na die Nandonidam opgeruk vir deelname aan die Tribal Boats Bass Classic-toernooi ten bate van die NG Kerk Levubu-gemeente. Onder hulle was die 38-jarige Karel Pretorius en 28-jarige Willie Knoetze.
Na afloop van die kompetisie het Tribal Boats, wat ‘n 18½-voet Bass Extreme bootromp op ‘n enkelas-sleepwa geborg het as hoofprys, boothengelaars uitgenooi om een van hul promosie-bote uit te toets. Willie en Karel het ook van die geleentheid gebruik gemaak.
Skaars het hulle weggetrek of daar was ‘n harde slag. Willie se pa, ook Willie, het Maandag vertel wat gebeur het.
“Ons was besig om vir hulle vanaf die oewer te kyk. Hulle was nog besig om die boot uit te trim en op spoed te kom. Ek het vir ‘n oomblik weggekyk en hoor toe net ‘n slag,” het pa Willie gesê. Toe Willie terugkyk, sien hy beide sy seun en Karel in die water en die boot in stukke.
‘n Ander boot het dadelik vir Willie en Karel, wat beide hul lewensgordels aangehad het, te hulp gesnel. Die twee is met ernstige beserings na die oewer gebring en ‘n EMS-helikopter is ontbied.
“Met die helikopter se aankoms is vir ons gesê dat hulle slegs een persoon kon inlaai. Willie het gesê hulle moet eerder vir Karel inlaai aangesien sy beserings baie ernstiger voorgekom het,” het Pa Willie gesê.
Karel is na Tzaneen afgevlieg vir mediese behandeling, terwyl Thohoyandou se ambulansdiens ontbied is vir Willie. “Baie mense is vinnig om te kritiseer, maar ek wil regtig noem dat ons fantastiese diens van die ambulansmense ontvang het, vanaf die dam waar hulle hom opgelaai het, tot by die Zoutpansberg Privaathospitaal,” sê Pa Willie.
Willie is met ‘n ernstige beenfraktuur en snywonde vanaf die Zoutpansberg Privaathospitaal in Makhado (Louis Trichardt) oorgeplaas na die MediKliniek in Polokwane. Hy het Maandagmiddag ‘n operasie aan sy linkerbeen ondergaan om ‘n erge beenbreuk met penne te herstel. Karel, wat onder meer harsingskudding opgedoen het en sy neus en drie ribbes gebreek het, is Maandagoggend reeds ontslaan.
Pa Willie is dankbaar dat sy seun en Karel leef. Hy het geen kwade gevoelens teenoor enige iemand oor die ongeluk nie en sê dat dit jammer is dat daar soveel stories rondgaan oor wat presies gebeur het.
“Volgens my was dit niks anders as ‘n fratsongeluk nie,” sê Pa Willie. Hy voeg by dat dit andersins ‘n baie suksesvolle naweek en fondsinsameling vir die gemeente was. Hy het ook hoë lof en dankbaarheid gehad vir Tribal Boats as hul hoofborg.
Bruce Engelbrecht van Tribal Boats het Dinsdag gesê dat hulle reeds besig is om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek en dat hulle in die proses is om die boot terug te kry by hul fabriek. Hy sê aangesien hy nie self daar was nie, is dit moeilik om te sê wat gebeur het. Bruce sê egter dat hy verstaan die boot het klaarblyklik ‘n golf getref, in die lug in gevlieg en neus eerste die water getref.
“Ek is net bly niemand is dood nie. Ek wil graag almal bedank wat so vinnig op die toneel was om te help en my meegevoel gaan uit na die beseerdes se families,” het Bruce gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
