ADVERTISEMENT:

 

Boere ontstoke oor onbillike arrestasies

 

News  Date: 14 June 2002

 

LOUIS TRICHARDT - Onbillike en kwaadwillige arrestasies op plase, maak dat die Polisie deel word van die plaasveiligheidsprobleem, eerder as om 'n bydrae te lewer tot 'n oplossing daarvan.

Die Soutpansberg Landbou-unie sê die Zimbabwe-fiasko, waar die weermag en polisie deur die staat misbruik word teen weerlose produktiewe individue, durf nie in Suid-Afrika nagevolg en herhaal te word nie.

Die Distrikslandbou-unie het reageer op die jongste voorval, waarin 'n toesighouer op 'n kleinhoewe naby Messina in hegtenis geneem is op 'n aanklag van poging tot moord, nadat hy twee betreders op die hoewe gekonfronteer het. Die voorval het verlede Sondag plaasgevind op Haver kleinhoewe 45, sowat 20 kilometer oos van Messina. Die ondersoekbeampte in die voorval is inspekteur Mafukana van die SAPD op Messina.

In 'n faksboodskap aan die provinsiale kommissaris van die SAPD in Pietersburg het die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Dries Joubert, gesê sy organisasie sal toesien dat die breër publiek kennis neem van voorvalle wat neerkom op 'n subtiele manifesterinig van die verwerplike Zimbabwe-model of dui op ongelooflike gebrekkige bevel en beheer.

Hy het verwys na bekende voorvalle, soos die Viviers-geval en die SAPD gewaarsku dat sulke optrede totaal onaanvaarbaar is.

"Ons as organisasie sal u spoedig in kennis stel van riglyne en optrede van ons lede waar en wanneer 'n onwettige, onnodige en onbillike arestasie weer in die gesig gestaar word," het mnr. Joubert in 'n faksboodskap aan die provinsiale kommissaris gesê.

Hy verwys in die boodskap na verskeie vergaderings en gesprekke oor die onnodige, moedswillige arrestasie van grondeienaars en sê die Distrikslandbou-unie was tot so onlangs soos 23 Mei in gesprek met lede van die departement en met die Area Kommissaris op Thohoyandou. Die samesprekings het gevolg na klagtes van onbehoorlike polisie optrede teen boere wat onwettige betreders op hul plase aankeer of verwilder.

"Oor en weer versekerings is onder andere tydens die ontmoeting op Thohoyandou gegee dat arrestasies van grondeienaars, mense met vaste en opvolgbare adresse, met groot omsigtigheid sal geskied."

Hy verwys na Sondag se voorval op die Haver kleinhoewe en sê die arrestasie is uitgevoer, nadat die betrokke persoon volgens hom doodgewoon gepoog het om na sy bure se belange om te sien. Mnr. Joubert sê volgens die beskikbare gegewens was die arrestasie onbillik en kwaadwillig en vorm dit deel van 'n landwye tendens waar soortgelyke optrede meer en meer voorkom.

Hy sê dit is verontrustend. Sy organisasie sal nie sy vermoë om pro-aktief op te tree laat marginaliseer of ongedaan maak om uiteindelik te verval in 'n hopelose situasie soos in die nabygeleë Zimbabwe nie.

Die provinsiale kommissaris van die SAPD word versoek om kennis te neem van die aangeleentheid en dringend te reageer.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines