ADVERTISEMENT:

 

Dorp neem afskeid van Oom Martin

 

News  Date: 25 July 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Dis met harte vol goeie herinneringe dat oom Martin Venter (81) se kinders, familie, gemeente en groot vriendekring van hom afskeid neem na sy afsterwe op Maandag, 21 Julie.

Martin Venter, alombekend en bemind in Louis Trichardt, was vir bykans dertig jaar skriba van die plaaslike Gereformeerde Kerk.

"Hy is seker die dierbaarste mens wat ek ooit geken het," is 'n raak beskrywing van een van sy mede gemeentelede, wat spesiale melding gemaak het van oom Martin se diepgaande belangstelling in sy medemens.

Ds. Dawid Serfontein beskryf hom as 'n sagte, liefdevolle persoon wat altyd konflik opgelos en vrede gemaak het. Oom Martin sal ook onthou word vir sy opvallende humorsin en sy talent as digter. Hy was ook 'n stoere Blou Bul ondersteuner, wat op sy dag in 1950 vir die Louis Trichardt Rugbyklub gespeel het.

Martin Jacobus Venter is op 28 April, 1922 gebore op Mooiplaas in die Soekmekaar omgewing. Hy het op Louis Trichardt skoolgegaan tot standerd agt, die hoogste standerd in daardie jare. In 1938 het hy aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer op die ouderdom van sestien jaar. Daarvandaan is Martin na die lugmag, waar hy gekwalifiseer het as passer en draaier. In 1951 is Martin getroud met Nellie Joubert en na 'n gelukkige huwelik van vyftig jaar, het Nellie hom vooruitgegaan in 2001. Vyf kinders is uit die huwelik gebore. Die oudste seun, Rassie, is in 1999 oorlede.

Vanaf 1958, tot en met sy afsterwe weens hartversaking, was oom Martin op Louis Trichardt woonagtig. Tot 1988 was hy werksaam by Soutpansberg Motors as onderdelebestuurder. Hy was bekend vir sy uitstekende geheue en het nooit nodig gehad om enige nommer in sy bedryf na te slaan nie. Vanaf 1989 het oom Martin sy skoonseun by Soutpansberg Auto bygestaan, totdat hy op 76-jarige leeftyd in Laat Lente gaan aftree het.

"Pa was 'n diep mens vir wie ons respek gehad het. Ons kon enige iets met hom bespreek en altyd op sy nommer druk. Ons voel gerus, want hy was 'n kind van die Here en hy is nou by ons boetie en ma. Hy het baie na aan die Here geleef en vir ons 'n groot voorbeeld gestel," is die kosbare woorde van Martin Venter se kinders.

Wyle oom Martin is Donderdag (24ste) om 11:00 vanuit Gereformeerde Kerk begrawe. Die diens is waargeneem deur ds. Dawid Serfontein. Hy word oorleef deur vier kinders, Thea, Rita, Louis en Martin, dertien kleinkinders en twee agterkleinkinders.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines