

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 June 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - "Die wildbedryf is tans die belangrikste vorm van grondgebruik in die Limpopo Provinsie en amper die helfte van alle wildplase in Suid-Afrika is in Limpopo geleë."
Hierdie en vele ander interessante feite is beklemtoon tydens die Bosveldjagters- en Wildbewaringsvereniging (Soutpansbergtak) se jaarlikse wildsete op 18 Junie. Mnr. Cornelis van der Waal, wildnavorser van Mara Navorsingstasie, was die spreker wat met insiggewende inligting vorendag gekom het.
Buiten die algemene wildsoorte, is dit deesdae moontlik om die meeste van die groot vyf op privaatgrond te siene te kry. Die aantal wildplase het baie uitgebrei. Die gemiddelde wildplaasgrootte in die provinsie is as 1 700ha bepaal in 1998. Mnr. van der Waal meen dat dit vandag groter is weens die groei in bewaarareas en die investering van 'n aantal oorsese maatskappye en individue in groot, aaneengeskakelde gebiede.
Na skatting is daar ongeveer 5 000 wildplase en 4 000 beesplase in Suid-Afrika. Amper die helfte van dié wildplase is in die Limpopo geleë.
"Na beraming is ongeveer 5 miljoen hektaar privaatgrond wildwerend omhein. As 'n persentasie, dui dit op ongeveer 42% van die totale oppervlak van die provinsie. Hierteenoor beslaan die formele bewaringsgebiede slegs 12.65%," het mnr. Van der Waal gesê.
'n Wildheining beteken egter nie dat slegs wild aangehou word nie.
"Ongeveer 40% van wildwerende plase boer met 'n kombinasie van beeste en wild. Beeste bly 'n maklik-verhandelbare kommoditeit wat veral handig te pas kom as die droogte of die finansies knyp," sê mnr. Van der Waal. Die kombinasie boerdery is dikwels 'n oorbruggingsfase vanaf suiwer beesboerdery na suiwer wildboerdery.
Tydens die fynproewers wildsete het die wildjagters en ander belangstellendes hulle ore gespits om te hoor dat wildvleis vinnig besig is om veld te wen as gesondheidsproduk. Wildsvleis is vry van chemiese stowwe. Natuurlik-geproduseerde voedsel raak al hoe meer gesog by gesondheidsbewuste, ontwikkelde lande.
Die grootste inkomste uit wild word tans verkry uit binnelandse jag (42%). Buitelandse jag beloop na beraming ongeveer 25% en lewendige wildverkope lewer ongeveer 29% van wildplase se inkomste.
Wildplaasienaars was bly om van mnr. Van der Waal te hoor dat wildplase in waarde verdubbel het oor die laaste dekade, volgens sekere bronne.
"Hierdie redes ten spyt, is dit veral interessant dat wildboere in die opname die hoofredes waarom hulle met wild boer, aangee as 'n liefde vir die natuur en die bydra tot natuurbewaring, met die winsmotief as bysaak," sê mnr. Van der Waal.
Jagters is egter die spil waarom ekonomiese wildboerdery draai. In Suid-Afrika is daar na beraming 200 000 jagters. Hierteenoor besoek maar sowat 6 000 buitelandse trofeejagters die land jaarliks, alhoewel dit 'n aansienlike inkomste beteken.
"Ons bevind ons in die wildparadys van Suid-Afrika en spog met die meeste soogdiersoorte, reptiele en voëlsoorte van al nege provinsies," het mnr. Van der Waal gesê en beklemtoon dat die Bosveldjagters- en Wildbewaringsvereniging 'n belangrike rol kan speel in die bewaring en verantwoordbare bestuur van die provinsie se unieke plant- en dierelewe.

ADVERTISEMENT:
