

ADVERTISEMENT:

News Date: 10 May 2013
Die nuus van nog ‘n bekende van Makhado (Louis Trichardt) se selfmoord het die afgelope week skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Die 51-jarige mnr. Jan Brink, of Jan Avbob soos hy alombekend gestaan het, se liggaam is Saterdagmiddag in die veld tussen die Grasdak in Cellierstraat en die Soutpansberg Gholfklub gekry.
“Niemand het dit verwag nie,” het Jan se skoondogter, Nina Brink, Maandag aan die Zoutpansberger gesê. “Ek en Jannie [Jan se seun] het nog verlede naweek vir hom kom kuier en hy was opgeruimd,” het sy gesê.
Jan het Donderdag (2de) vermis geraak. “Ons kon hom net nie in die hande kry nie; sy selfoon was af gewees,” het Nina gesê. Nina en Jannie bly in Potchefstroom.
Jan se vrou, Sally, was nie by die huis nie. Sy het vir hulle dogter, Anél, in Port Elizabeth gaan kuier. Teen Saterdag, toe Jan nog nie opgespoor kon word nie, het Nina se ouers, Louis en Elsjé Linde van Laerskool Louis Trichardt, die hulp van die polisie en Soutpansberg Dorpswag ingeroep.
‘n Soekgeselskap is saamgestel, maar nog voordat die soektog amptelik kon begin, het twee dorpswaglede op Jan se liggaam afgekom, skaars ‘n klipgooi van die teerpad af. Hy het homself aan ‘n boom opgehang.
Sy familie is dadelik in kennis gestel. Sally, wat in daardie stadium met die vliegtuig op pad terug was huis toe, kon gelukkig die nuus eerste by Jannie en Nina hoor. Die nuus van Jan se dood het soos ‘n veldbrand deur die dorp versprei. Volgens die familie het hy die afgelope twee jaar ‘n geweldige stryd teen erge depressie gevoer.
“Wie gaan ons nou begrawe?” het menige inwoner met hartseer en verslaentheid opgemerk. Jan, wat vir ongeveer 20 jaar gewerk het by die plaaslike Avbob-tak, was geliefd vir die vriendelike en simpatieke wyse waarop hy met bedroefde families gewerk het. “Al was hy nie meer by Avbob nie, wou ek nog steeds deur ou Jan begrawe word,” het meer as een persoon opgemerk.
Jan, wat op 4 Januarie sy 51ste verjaarsdag gevier het, was vir die afgelope jaar werksaam by Limpopo Melkery. Hy was ook vir baie jare aktief betrokke as ‘n ouderling van die NG Moedergemeente. Jongmense sal hom onthou as leier van die kerk se jeuggroep, die Frogs.
Jan, wat oorspronklik van Brits kom, het daar vir Sally op skool ontmoet. Die egpaar is later getroud en het bietjie rondgetrek voordat hulle in Makhado (Louis Trichardt) kom bly het. Altwee hulle kinders, Jannie en Anél, is hier gebore.
‘n Roudiens vir wyle Jan is Woensdag vanuit die NG Moedergemeente gehou. Die familie het 'n spesiale woord van dank gehad vir die hulp en bystand wat hulle van die Makhado SAPD, die Soutpansberg Dorpswag en personeel van Laerskool Louis Trichardt se koshuis ontvang het. “Almal het ingespring en ons gehelp; baie dankie.” Hulle het ook elke persoon bedank vir hul boodskappe van bemoediging en vertroosting.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
