

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 May 2013
Die renoster-saak teen sakeman Dawie Groenewald en sy nege medebeskuldigdes sal na meer as twee jaar uiteindelik oorgeplaas word na die Hooggeregshof om verhoor te word.
Groenewald en sy medebeskuldigdes het voorverlede Vrydag vlugtig in die Musina Landdroshof verskyn op klagte wat verband hou met beweerde grootskaalse renosterstropery. Dié groep is gedurende September 2010 in hegtenis geneem.
Die ander beskuldigdes is Groenewald se vrou, Sariette (36), twee veeartse, Karel Toet (48) en Manie du Plessis (39), Toet se vrou, Marisa (40), Nardus Rossouw (44), Tielman Erasmus (35), Dewald Gouws (27), Paul Matoromela (63) en Jacobus Marthinus Pronk (50).
Al 10 is in Oktober 2011 aangekla op 1 872 klagtes, wat ondermeer insluit permit-oortredings, geldwassery, onwettige jag en die handel in en die verkoop van renosterhorings, asook oortredings van die Wet op Biodiversiteit en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Daar is ook aanklagte wat verband hou met die onwettige besit en vervoer van olifanttande, pogings tot regsverydeling en die onwettige jag van ‘n luiperd.
Groenewald, die eienaar van Out of Africa Adventurous Safaris, word volgens die klagstaat daarvan aangekla dat sy besigheidsaktiwiteite wettige en onwettige bedrywighede ingesluit het. Hy en sy medebeskuldigdes sou glo renosters onwettig onthoring, gejag en onwettig besit of verkoop het.
Tydens Vrydag se hofverskyning is die groep se saak uitgestel tot 24 Julie. Dié uitstel is glo gevra sodat die beskuldigdes se verhoor amptelik in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor kan word.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
