ADVERTISEMENT:

 

Waterpoortpad nou 'n nasionale roete

 

News  Date: 25 June 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die Waterpoortpad is as 'n nasionale roete verklaar en behoort nou opgegradeer te word.

In die Staatskoerant van 7 Mei vanjaar is die Waterpoortpad as 'n nasionale roete gepubliseer, wat beteken dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap beheer oor hierdie pad oorneem.

Die regeringskennisgewing handel oor die verklaring van die bestaande provinsiale paaie P94-1, P94-2 en die distrik roete 679 as nasionale roetes R521 en R523 in die distrikte van Polokwane, Seshego en Soutpansberg. Die waarnemende minister van Vervoer, mnr. Jeff Radebe, het die Polokwane/Vivo/Masekwaspoortpad as nasionale paaie R521 en R523 verklaar. Dit geld vanaf die kruising met die Polokwane Westelike verbypad by Polokwane tot by die kruising met die N1 by Masekwaspoort.

Die kennisgewing in die staatskoerant is behandel op 'n vergadering van die Voorsittersvereniging op 9 Junie. Volgens die voorsitter, mnr. André Naudé, beteken die feit dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap beheer oor die pad oorneem, dat die pad opgegradeer behoort te word.

Die toestand van hierdie pad, wat toenemend deur swaar voertuie gebruik is om die Baobab Tolhek te vermy, het in die verlede baie vertoë aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap tot gevolg gehad. In reaksie op een van die versoeke van die Distrikslandbou-unie het die Streekbestuurder: Noordelike Streek, van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap gesê dat die agentskap bewus is daarvan dat sommige swaar voertuie die betaling van tolgeld vermy deur gebruik te maak van distrikspaaie. Hy het voorts gesê dat die agentskap geen jurisdiksie oor hierdie paaie het nie.

Noudat die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap jurisdiksie oor die Waterpoortpad verkry het, word 'n toename in druk verwag om dié pad op te gradeer. Mnr. Naudé sê dat swaar voertuie wat toenemend van hierdie pad gebruik maak en nie meer van die roete oor die berg nie, nou wel geregtig is om hierdie pad te gebruik.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines