

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 May 2013
Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het besluit dat hulle ‘n gedeelte van die geld wat hulle weerhou, aan die Makhado Munisipaliteit gaan teruggee.
Die besluit volg na afloop van ‘n vergadering van lede van die SBBV op 15 Mei. Die SBBV weerhou, sedert hul verklaring van ‘n dispuut met die munisipaliteit in Augustus 2008, gedeeltes van hul munisipale rekeninge en betaal die gelde in ‘n trustfonds in. Die bedrag beloop al amper R6 mijoen.
Die SBBV gaan die basiese riool- en waterheffings aan die munisipaliteit terugbetaal, maar nie die eiendomsbelasting nie. Die basiese elektrisiteitsheffing word in elk geval nie weerhou nie. Voortaan sal slegs die eiendomsbelasting weerhou word.
“Ons berus ons besluit op ons munisipaliteit se ordonnansie, wat verskil van die ordonnansie van die Moqhaka Munisipaliteit in die Rademan-saak. Die konstitusionele hofsuitspraak in die Rademan-saak het op die ordonnansies gereageer. Volgens ons ordonnansie kan die krag nie afgesny word as die eiendomsbelasting nie betaal is nie, “ het die voorsiter van die SBBV, me. Inga Gilfillan, hierdie week gesê.
Die SBBV se prokureur, mnr. André Naudé, het op 20 Mei gesê dat hulle die munisipaliteit geantwoord het dat die krag nie summier afgesny mag word as die eiendomsbelasting nie betaal is nie, maar dat die munisipaliteit eers sal moet dagvaar. Elke lid sal moet gedagvaar word. Naudé het bygevoeg dat hy en die advokaat van die SBBV, adv. Denny du Preez, na volledige navorsing ‘n memorandum oor die aangeleentheid gaan opstel. Die proses kan twee weke duur.
Beide Naudé en Gilfillan sê dat die SBBV gedurig sal heroorweeg hoe ver hulle met die regsprosesse wil gaan.
“Hierdie is ‘n interim besluit. As die regskostes te hoog raak en ons voel dat die dienslewering op standaard is, kan ons moontlik besluit om die geld alles oor te betaal. Ons verweer is tweeledig: eerstens word krag nie afgesny wanneer eiendomsbelasting uitstaande is nie, want daar moet eers ‘n dagvaardiging uitgereik word, en tweedens is die dienste nie wat dit moet wees nie,” het Gilfillan gesê.
Gilfillan het bygevoeg dat daar met die saak van Makhado Munisipaliteit versus Enslin en Du Plessis erken is dat hul lede se krag onregmatig afgesny is. Die tussentydse hofbevel het gelui dat beide Enslin en Du Plessis se krag aangeskakel moet word en dat die kragvoorsiening van ander lede van die SBBV se elektrisiteitstoevoer nie afgesnyl mag word nie. Die bestuurder van die SBBV, mnr. Phillip Olivier, het daarop gewys dat dit verwys na lede wat hul maandelikse rekening betyds vereffen.
Die Makhado Munisipaliteit het reeds ‘n skrywe op 29 April aan die SBBV gerig om te eis dat hulle die geld oorbetaal en die tussentydse hofbevel laat vaar.
Intussen sal die Stadsraad nie SBBV-lede se krag afsny tot die Enslin/Du Plessis-saak voorgekom het nie. “Die Stadsraad het toegestem tot die tydelike interdik om nie krag af te sny nie, maar hulle kan wel besluit om te begin dagvaar,” het die prokureur van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Johann Hammann, op 21 Mei gesê. Die verwagte hofdatum vir die Enslinsaak is 27 Julie.
Hamman sê dat hy nie kan sien dat die skuldinvorderingsordonnansie anders gelees kan word nie as dat dienste beëindig kan word vir enige agterstallige skuld. Hy lê daarop klem dat die Grondwetlike Hof dit in die Rademan-saak duidelik gestel het dat verbruikers hulle volle rekenings moet vereffen.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
