ADVERTISEMENT:

 

Wyle Bertus Petzer (55).

Hartaanval eis lewe van geliefde Bertus

 

News  Date: 24 May 2013

 

Vir inwoners van die Soutpansberg was die afgelope week ‘n hartseer een, met talle bekendes en oud-bekendes wat oorlede is.

Een van hulle was die 55-jarige mnr. Bertus Petzer wat Saterdag (18de) aan ‘n hartaanval in Pretoria oorlede is.

Bertus het dié dag deelgeneem aan die agste jaarlikse Dopperspele wat op die kerkterrein van Andeon aangebied het. ‘n Groot aantal Gereformeerdes uit 16 gemeentes in en om Pretoria het sedert vroegoggend met groot entoesiasme mekaar aangedurf in 10 verskillende sportsoorte.

“Teen half-twee die middag is die feesvreugde skielik gedemp. Ouderling Bertus Petzer van die Gereformeerde Kerk Rietvallei, wat saam met sy vrou en drie van sy kinders in die vreugde van die dag gedeel het, het 'n ernstige hartaanval gekry en is daar, op die gras, tussen twee jukskeiputte oorlede,” skryf ds. Cassie Aucamp, ‘n woordvoerder van die Gereformeerde Kerk, in ‘n omsendbrief aan mede-gemeentes. Hy sê die gebeure was vir hulle almal skokkend en tragies.

“Tog, soos een van my kollegas dit treffend gestel het, het die Here dit so beskik dat Bertus hierdie lewe verlaat het terwyl hy tussen sy mense, tussen 'n groot skare van God se kinders was,” skryf Aucamp. Hy het Bertus en sy gesin as meelewende lidmate van die kerk beskryf wat met groot ywer en oorgawe in hul nuwe gemeente gedien het.

So sal Soutpansbergers, en veral inwoners van Makhado (Louis Trichardt), ook vir Bertus onthou – iemand wat alle uitdagings in die lewe met groot ywer en oorgawe aangepak het. Die Petzer-gesin het in Desember 2012 na Pretoria verhuis. Tot voor hul vertrek was Bertus vir bykans ‘n dekade ouderling by die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt-gemeente. Hy het ook vir verskeie termyne gedien as voorsitter van Hoërskool Louis Trichardt se beheerliggaam. Vir jare was hy ook ‘n bekende in makelaarskringe in diens van talle nasionale bankgroepe. In diens van sy land het hy van die middel negentiger jare tot 2000 gedien as tweede in bevel van Soutpansberg Militêre Gebied (SMG). Op sportgebied was hy ‘n ywerige rugbyspeler en is in die laat tagtiger jare verkies  tot die Verre-Noord rugbyspan vir wie hy baie wedstryde uitgedraf het as kaptein.

Wyle Bertus word oorleef deur sy vrou, Risna, seuns Eben en dogters Amy, Carmea en Dehlia. Hy is op Donderdag, 23 Mei, vanuit die Gereformeerde Kerk Rietvallei in Pretoria begrawe. Die diens is waargeneem deur ds. Hans Grobler van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt-gemeente.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines