

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 May 2013
Meer as 50 munisipale werkers het Dinsdag by die Louis Trichardt Landdroshof bymekaar gekom vir die verskyning van ‘n bekende inwoner van die streek.
Die 60-jarige Eddie Luus het Dinsdag vlugtig in die Distrikshof verskyn op klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die munisipale werkers, in hul blou oorpakke van die Makhado Munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling, was daar om hul kollega, wat na bewering aangerand is, te ondersteun.
Wisani Tlhabela (34) beweer dat Luus hom aangerand het terwyl hy besig was om herstelwerk te doen aan die kraglyn naby die Bandelierkop/Mara-pad. Tlhabela het destyds aan die Zoutpansberger se susterskoerant, die Limpopo Mirror, vertel dat hy Luus se bakkie verbygesteek het op 'n grondpad. Luus het agter sy dogter op haar perd gery. Hy beweer dat Luus hom ingejaag het en toe hy stop, het Luus losgetrek en hom in die gesig geslaan.
Luus het op sy beurt vertel dat hy in ‘n woordewisseling betrokke was met Tlhabela, omdat laasgenoemde roekeloos bestuur het en Luus se dogter se lewe in gevaar gestel het. Toe Luus later ‘n klag van roekeloos bestuur teen Tlhabela by die polisie wou aanhangig maak, is hy gearresteer en moes hy 'n nag en ‘n volle dag in die polisieselle deurbring.
Tydens Luus se hofverskyning Dinsdag het die Staat aangedui dat hulle opdrag van die Direkteur van Openbare Vervolging gekry het om Luus te vervolg. Luus kon sedert sy arrestasie nog nie daarin slaag om ‘n teenklag teen Tlhabela gelê te kry nie.
Luus se saak is uitgestel tot en met 3 September vir verhoor.
‘n Navraag oor die groot opkoms van munisipale werkers wat tydens werkstyd by die hof opgedaag het, is aan die Makhado Munisipaliteit se kommunikasieafdeling gerig. Munisipale woordevoerder mnr. Louis Bobodi is gevra of die munisipaliteit die amptenare amptelik versoek het om by die hof te wees, en of die amptenare uit hul eie besluit het om hof toe te gaan? Teen druktyd is daar nog geen antwoord ontvang nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
