ADVERTISEMENT:

 

Twee swaar gestraf na hul taxi uitbrand

 

News  Date: 07 June 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Twee 29-jarige inwoners van die dorp, Solomon Johannes Vermaak en Johannes C Knoetze, is verlede week strawwe vonnisse opgelê in die plaaslike landdroshof nadat hulle skuldig bevind is aan 'n klag van diefstal en opsetlike saakbeskadiging.

Vermaak en Knoetze se skuldigbevinding hou verband met 'n voorval in Januarie vanjaar toe hulle 'n minibus taxi by die Leeustraat/Levubupad-kruising aan die brand gesteek het. Volgens die eienaar van die minibus het hy die aand van 22 Januarie sy voertuig daar parkeer en saam met sy vrou na Thohoyandou gereis. Met sy terugkoms het hy die uitgebrande wrak van sy minibus gevind. Ooggetuies het hom kort daarna in kennis gestel dat hulle omstreeks 01:00 twee mans by die voertuig gewaar het. Hulle het verder aangevoer dat die mans verskeie items uit die minibus verwyder het, waarna hulle die minibus vol petrol gegooi het en aan die brand gesteek het. Vermaak en Knoetze is kort daarna gearresteer.

Tydens hul verskyning in die hof op 31 Mei, is beide Vermaak en Knoetze gevonnis tot agtien maande gevangenisstraf, wat in geheel opgeskort is vir vyf jaar op voorwaarde dat hulle in dié tydperk hulle nie weer skuldig maak aan 'n soortgelyke oortreding nie. Daarbenewens is hulle tot twee jaar korrektiewe toesig gevonnis, waarvan een jaar huisarres. In terme van hul huisarres mag hulle slegs tussen hul huis en werk beweeg, mag hulle geen drank gebruik nie en kan hulle slegs die huis verlaat, nadat hulle die nodige toestemming verkry het.

Vermaak en Knoetze is verder gevonnis tot 384 uur gemeenskapsdiens. Hulle moet ook R36 000 skadevergoeding aan die eienaar van die minibus terugbetaal teen 'n maandelikse paaiement van R750 elk (R1 500 gesamentlik), gekoppel aan 15,5% rente 'n jaar. Hul vonnis het onmiddellik in werking getree.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines