

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 June 2002
MESSINA – Bykomende voorsorg word nou by die binnelandse hawe op Messina getref weens 'n verdere toename in die reuse toevoer van mielies na Zimbabwe.
Inmiddels is die binnelandse opberging en verskepingsgerief ook van groot hulp om vars produkte vanuit die ontwrigte Zimbabwiese produsente-gebied by geskikte markte te kry.
Die aanleg se bestuurder by die binnelandse hawe-gerief van Messina Associated Carriers, mnr. Willie de Bruin, sê bykomende toerusting word beoog om die toenemende vraglas so ekonomies en vinnig moontlik te kan hanteer.
Spesiale tydelike oorlaai-toerusting met 'n daaglikse vermoë van 500 ton mielies per dag is vroeër vanjaar by die aanleg geïnstalleer om 'n bestelling van 'n half miljoen ton mielies vir vervoer na Zimbabwe te hanteer. Die ten volle outomatiese toerusting suig die los mielies, wat in treintrokke by die aanleg aankom, uit die trokke, vul en stik die mieliesakke en laai die sakke op wagtende voertuie of op palette in die onderdak haweruimte vir padvervoer oor die grens na Zimbabwe.
Die aanvanklike toerusting is vir sowat 'n halfmiljoen rand deur 'n Zimbabwiese maatskappy opgerig om die reuse bestelling vir die Zimbabwiese Grain Marketing Board te hanteer.
Mnr. De Bruin sê die massa mielietoevoer per trein is intussen deur verskeie ander bestellings en projekte vergroot en dit is nou belangrik om vir die hantering van die toenemende vrag voorsiening te maak.
'n Belangwekkende toevoeging tot die bedrywighede by die binnelandse hawe op Messina is die oorgrens-vervoer van vrugte vir verskeping na die buiteland. 'n Besending van 500 ton sitrus uit Zimbabwe, wat bestem is vir uitvoere vanaf die Durbanse hawe, is die afgelope weke by die binnelandse hawe gehanteer. Vragmotors met verpakkingskartonne vanaf Messina word oor die brug gestuur na die produsente in Zimbabwe, waar die sitrus verpak en weer per vragmotor oor die grens teruggebring word na die aanleg op Messina, vanwaar die mees ekonomiese vervoer-opsie (per pad of per spoor) oorweeg word.
"Ons verwag stellig dat die vraag vir massavrag-geriewe op Messina ook na verskeie ander kommoditeite uitgebrei sal word. Daar is alreeds 'n geweldige vraag na kookolie en suiker."

ADVERTISEMENT:
