ADVERTISEMENT:

 

Oom Piet de Vaal sterk aan na beroerte

 

News  Date: 25 June 2004

 

PRETORIA – Die bekende skilder, skrywer en oud-prokureur van die verre-noorde, oom Piet de Vaal, is besig om mooi aan te sterk en oefen reeds gereeld weer sy tekenhand, nadat hy vroeg in April vanjaar beroerte gehad het. Dit het gevolg kort na sy 81ste verjaardag.

Oom Piet kon gevolglik nie 'n uitstalling van sy werke bywoon nie, wat op 2 April ter herdenking van sy 81ste verjaardag in Pretoria plaasgevind het. Hy sterk nog aan by sy dogter, mev. Milda Stanton, in Pretoria.

"Hy ontvang steeds behandeling, maar het gelukkig bykans volkome herstel," het sy vandeesweek by navraag gesê.

Oom Piet beoog om aanstaande maand terug te keer na sy huis op Louis Trichardt. Hy is op 19 Maart 1923 hier gebore waar hy hom later ook permanent gevestig het. Hy was in sy vrye tyd nie net vaardig met die skilderkwas nie, maar ook met die pen. Hy het onder meer 'n boek oor die geskiedenis van die dorp Louis Trichardt geskryf. As skilder het hy veral bekendheid verwerf vir sy bosveldtonele en kremetartbome.

Oom Piet het vir meer as 40 jaar as prokureur gepraktiseer, waarvan twee jaar op Messina. As geswore waardeerder en adjunk-balju het sy werk hom ook in aanraking gebring met baie van die legendariese mense van die omgewing.

"Hy ken elke plaas en bykans elke kremetartboom suid van die Limpopo tot by Pietersburg (waar hy skoolgegaan het). Geen wonder dan ook dat die eiesoortige bekoring van hierdie omgewing hom as kunstenaar tot sulke hoogtes sou inspireer nie," sê Milda, wat self as prokureur en notaris in Pretoria praktiseer.

"As hy 'n kremetartboom skilder, skilder hy nie as toeskouer nie. Hy skilder hom van binne. Elke boom het vir hom 'n eie siel en karakter. Die kleursamestellings verleen 'n sagtheid aan elke bosveldreus wat hy skilder. Die lug het 'n manier om te verkleur saam met die weersomstandighede en die tyd van die dag. As jy lank genoeg na sommige van sy werke kyk, kan jy die sonbesies in die mopaniebome hoor sing!"

Mense wat hom goed ken, sê sy lewe is baie soos dié van die kremetartboom: Onbeweeglik van buite, maar sag van binne. Hy is een met sy omgewing en, (so sê hy self) as jy hom sou probeer verplant, gaan hy sommer dood.

As skilder het hy 'n groot bewondering vir die werke van Pierneef en Erich Mayer. Hy het tydens sy leeftyd die geleentheid gehad om met Mayer idees uit te ruil. Hy vertel die staaltjie van hoe hy as seun met die perdekar saam met sy pa en 'n drywer dorp toe gery het. Naby die dorp, net waar die ou Moederkerk mooi teen die hoogte sigbaar was, het sy pa iemand tussen die lang gras langs die pad gewaar. Hy stuur toe die perdekardrywer om te gaan uitvind wat die man daar doen. Die drywer het teruggekom met die berig: "Nee, hy sê hy teken." Oom Piet glo tot vandag toe dat dit inderdaad Pierneef was wat hy daardie dag gesien het, terwyl dié besig was om sy beroemde "Blik op Louis Trichardt" te skilder.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines