

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 June 2002
MOPANE – Hulp is op pad vir landbou-produsente noord van die Soutpansberg, na 'n dringende vergadering en inspeksie ter plaatse met die streekverteenwoordiger van die provinsiale Departement van Openbare Werke.
Die Streekverteenwoordiger van die departement in Thohoyandou, mnr. Eric Munere, het na 'n dringende versoek van lede van die Soutpansberg Distrik Landbou-unie produsente vandeesweek op Mopane ontmoet. Op die byeenkoms is die ernstige probleme met die swak toestand van paaie eerstehands onder mnr. Munere se aandag gebring. Hy is ook op 'n inspeksierit geneem op distrikspad 777, wat een van die erg verwaarloosde paaie in die betrokke kontrei is.
Mnr. Munere het na afloop van die inspeksierit toegegee dat die pad inderdaad bykans onrybaar is. Die pad is een van die roetes waarop vars produkte vanaf die produsente na die markte vervoer moet word. Van die produsente het mnr. Munere op die vergadering ingelig dat hulle produkte in transito ernstige skade opdoen as gevolg van die onbruikbare toestand van die paaie. Sommiges ly gereeld ernstige verliese. Die verliese beloop tot soveel as twintig persent en meer van die vragte wat op die verwaarloosde roetes vervoer moet word.
Mnr. Munere het onderneem om onmiddellik toe te sien dat 'n padskraper en ander noodsaaklike toerusting verskaf sal word om binne die volglende week reeds te begin met die verbetering van pad 777. Aandag aan die ander paaie wat onder sy aandag gebring is, sal onmiddellik daarna volg.
Boere wat die vergadering bygewoon het, het hul verligting uitgespreek oor die onderneming om die paaie onmiddellik te begin verbeter. Hulle het hulself bereid verklaar om materiaal, water, grond en gruis, wat nodig is in die padbouprojek, beskikbaar te stel waar nodig.

ADVERTISEMENT:
