

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 June 2002
LOUIS TRICHARDT - Mense wat vir afleiding met hul vierwielaangedrewe voertuie deur die park op die hoek van De la Rey- en Rivierstraat jaag, gaan erosieslote in die park veroorsaak en is besig om die omliggende inwoners die harnas in te jaag.
Mev. Marie Helm, DA raadslid van Wyk 1, waaronder die park val, het verskeie klagtes in die verband ontvang. Afgesien van die erosieslote, is daar ook klagtes van mense wat hul motors binne in die park parkeer, sowel as rommel wat dikwels die watervoor verstop. Inwoners is ook bekommerd dat die park vir prostitusie gebruik word en daar was reeds 'n voorval waar 'n man met 'n skynbaar-minderjarige meisie in 'n voertuig gekuier het.
Mev. Helm is dit eens dat die park met goeie bestuur weer mooi kan lyk.
"Wanneer die gemeenskap betrokke raak deur middel van 'n lewendige belangstelling in natuurbewaring, kan ons hierdie park en die ander groen gedeeltes as 'n groen long behou vir die nageslag," sê sy. In aansluiting hiermee, vertel mnr. André Potgieter, verteenwoordiger van die Wykskomitee van die Louis Trichardt dorpgedeelte van Wyk 1, dat hy nog die bosbokke kan onthou wat vroeër in die park rondgestap het. Die bosbokke vorm egter nie meer deel van die habitat nie.
Intussen het 'n woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit bevestig dat dit nie volgens die regulasies is om met voertuie in 'n park rond te ry nie. Mev. Helm sê dat inwoners haar moet skakel by tel. 082 683 2835 indien hulle 'n vierwielaangedrewe voertuig in die park gewaar. Klagtes rondom prostitusie, veral waar minderjarige kinders betrokke is, kan by die Kinderbeskermingseenheid aangemeld word by tel. 073 203 1824. Rommelstrooiers kan gerapporteer word by die hoof van Gemeenskapsdienste van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Smuts Jacobs. Skakel hom by 015 516 0212.

ADVERTISEMENT:
