

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 July 2003
LEVUBU – Ongeduld met die Limpopo Grondeise Kommissie se traagheid om met konkrete voorstelle rondom die grondeise in die Soutpansberg-omgewing vorendag te kom, is aan die toeneem.
In die afwesigheid van skriftelike antwoorde op navrae wat aan die Limpopo Grondeise Kommissie gerig is, moet boere telkens deur middel van die media verneem dat dit hulle (die boere) is wat voete sleep.
Volgens boere is hierdie beeld van onwilligheid heeltemal ongeregverdig, te oordeel aan die feit dat verskillende groeperinge van grondeienaars in Levubu hulle as vrywillige verkopers verklaar het. Een van dié groeperinge, die Laatsgevondengroep, het die afgelope jaar meer as dertig keer navrae en dokumentasie aangestuur na die Limpopo Grondeise Kommissie.
Sedert die grond in April 2000 in die staatskoerant geproklameer is as onderhewig aan grondeise, is tot op hede nog nie een navraag of skriftelike voorstel beantwoord nie. Omvattende voorstelle aangaande toekomstige vennootskappe met die grondeisers en die oordrag van kundigheid deur vrywillige verkopers het 'n duidelike boodskap van samewerking deurgestuur.
Mnr. Frans Prinsloo van Groep 23 sê dat die sentrale regering nie werklik grondhervorming as 'n prioriteit stel nie.
"Dit kan gesien word aan die ontoereikende bedrag in die orde van R790 miljoen wat vir grondhervorming bewillig is. Verder rus hulle nie die Grondeise Kommissaris in Polokwane toe met voldoende mannekrag en kundige ondersteuning nie," sê mnr. Prinsloo.
Grondeise is al sedert die middel negentigs aanhangig gemaak deur 'n aantal Venda-groeperinge, naamlik die Ratombo's, die Ravele's, die Masakona's, die Sigalu's, die Tshakuma's en die Manuerva's. Bykans alle landbougrond onder die beheer van kommersiële boere is onderworpe aan grondeise. Die Levubu grondeienaars hanteer die grondeise deur middel van hul verskillende groeperinge. Na die proklamasie van 2000 is waardasies van die grond vir die staat gedoen in Oktober 2001.
"Die destydse waardasies het die grondhervormingsproses tot stilstand gebring. Die waardasies was waarskynlik vir die staat te hoog. Dit is egter nooit aan ons gekommunikeer nie," sê mnr. Paul Smit (snr.) van die Laatsgevonden Levubu Grondeienaarsvereniging. Mnr. Smit sê dat waardasies van tussen R400 en R4 000 per hektaar wel in die media genoem is.
"Dit lyk vir ons of daar slegs met ons deur middel van die media gekommunikeer word. Daar moet egter in ag geneem word dat 'n hektaar piesangs of makadamias byvoorbeeld 'n bruto opbrengs van tussen R35 000 en R70 000 per jaar kan lewer," sê mnr. Smit. Verder is daar ook verskeie groot aanlegte waar makadamias, avokado's en lietsjies verwerk en uitgevoer word, asook 'n sapverwerkingsfabriek. Dit is buiten die entrepreneurs wat piesangs op groot skaal rypmaak en bemark.
Boere word in die media uitgebeeld as mense wat nie wil saamwerk nie en te veel vir hulle plase wil hê. Mnr. Prinsloo stel die saak in perspektief: "Die boere maak nie pryse nie. Hulle wil die markwaarde vir hulle grond hê."
Die gebrek aan kommunikasie, en moontlik ook kundigheid en bekwaamheid onder die grondeise-amptenary, lei tot die gevoel onder die grondeienaars dat hulle hul net telkens teen 'n muur vasloop. In die loop van die proses is die amptenare verskeie kere vervang. Amptenare se werklike of beweerde gebrek aan beskikbaarheid dra by tot die vertraging van die proses.
Alhoewel 'n gedeelte van die Ravele-grondeis afgehandel is, sloer die staat met al die ander eise.
In 'n vierde konsepwetsontwerp wat op 26 Mei vanjaar beskikbaar gestel is, word voorsiening gemaak vir eiendomsoordrag bloot deur 'n kennisgewing van die betrokke minister. Dié konsepwetsontwerp maak ook voorsiening vir onteiening vir die doel van grondhervorming en nie net vir die doel van restitusie nie. Mnr. Prinsloo het na aanleiding hiervan gesê: "Na my mening is dit onkonstitusioneel. Dit is politiekery met die oog daarop om die boere bang te maak sodat vrees die grondpryse kan laat daal."
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
