

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 June 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Limpopo Melkery het weereens opslae gemaak deur 'n silwer toekenning te ontvang vir hul kudde se melkproduksie.
Mnr. Joubert Fourie van Limpopo Melkery se Holsteinkudde het 'n agtste plek ontvang in die Meester Suiwelboer-toekenningsfunksie waar die top suiwelkuddes van die Noordstreek aangewys word. Die funksie is op 18 Junie in Pretoria in die St. George Hotel aangebied en is bygewoon deur die kuddebestuurder, me. Corné Willemse.
Slegs die beste 50 uit sowat 1 400 kuddes kom in aanmerking vir hierdie toekennings. Die streek strek oor die hele eertydse Transvaal en 'n gedeelte van die Vrystaat.
Op 'n daaglikse basis word melkaantekeninge geneem op nasionale vlak en die syfers word ingestuur vir ontleding. Van Limpopo Melkery se Holsteinkudde is 167 koeie getoets en die gemiddelde melkproduksie oor 'n jaar was 10,596 liter. Die samestelling van die melk is ontleed en die kilogram proteïen en bottervet in die melk is onder andere beoordeel.
Mnr. Fourie sê dat dit die eerste keer is dat die kudde 'n silwer toekenning kry. Die toekenning is vir die jaar 2002/2003. In die verlede het hulle al vyf maal 'n brons toekenning ontvang.
"Volgende keer gaan ons onder die top vyf wees!" sê Fourie.
"Dit is 'n uitstekende prestasie vir die omgewing waar ons melk," sê me. Willemse. Al die ander melkboerderye wat goed presteer, is geleë in die Hoëveld. Mnr. Fourie het bygevoeg dat die hitte en bosluis- oordraagbare siektes melkproduksie hier belemmer, asook die ver afstand vanaf voerverskaffers.
Desnieteenstaande, behaal Limpopo Melkery net meer en meer sukses. Mnr. Fourie sê dat die geheim die beste genetika en die beste voer is.
"Ons toon genetiese vordering met dié dat ons slegs gebruik maak van ingevoerde bulle. Dit begin vrugte afwerp. Die nuwe kalfies is steeds beter as die koeie. Hierdie satisfaksie om die verbetering te sien, gee jou die dryfkrag om aan te gaan."
Mnr. Fourie was ook vroeër vanjaar een van die vyf finaliste in die Meester Suiwelboer van die Jaar-kompetisie.
"Hier word die kudde nie beoordeel nie, maar die boerbestuur word geëvalueer," sê Fourie.

ADVERTISEMENT:
