

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 June 2002
LOUIS TRICHARDT – Sowat R28 000 se onwettige Zimbabwiese sigarette is Vrydag, 31 Mei hier gekonfiskeer in 'n gesamentlike operasie deur die plaaslike Verkeersafdeling en lede van Doeane en Aksyns.
Beamptes het beide straatsmouse en winkeleienaars geteiken. Sewe straatsmouse is aangekeer, terwyl een winkeleienaar ingevolge die Doeane en Aksynswet gearresteer is vir die onwettige handel in Zimbabwiese sigarette. Die grooste hoeveelheid sigarette is egter in 'n stoorkamer van 'n bekende besigheid in Louis Trichardt gevind. Die bestuurder van die besigheid was gelukkig om slegs 'n waarskuwing te ontvang, aangesien hy nie daarvan bewus was dat die sigarette in sy stoorkamer geberg word nie. Die sigarette, altesaam 565 kartonne van tien pakkies elk, is intussen na Beitbrug teruggeneem waar dit verbrand sal word.
Lede van Doeane en Aksyns het na afloop van die operasie winkeleienaars vermaan om nie onwettige Zimbabwiese sigarette aan te hou of te verkoop nie. Hulle het bygevoeg dat soortgelyke operasies op 'n gereelde basis gehou sal word.

ADVERTISEMENT:
