ADVERTISEMENT:

 

Bestuurskool se motor ook op munisipale swartlys

 

News  Date: 18 July 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die vraag kan gevra word of die Makhado Munisipaliteit 'n diens wil lewer aan diegene wat bestuurderslisensies met behulp van bestuurskole wil bekom en of hulle soveel moontlik struikelblokke in die pad wil plaas.

Na vele klagtes van stadige diens en uitsteltegnieke, is die nuutste die weiering van 'n applikant as gevolg van 'n beswaar teen die motor waarin sy gekom het vir haar toets.

Mev. Petro Degenaar se toets op Maandag, 23 Junie is onderbreek toe 'n verkeersbeampte uitgestorm het na die toetsbeampte met die uitroep dat die toets nie mag voortgaan nie, omdat die voertuig aan mev. Linda Dunhan behoort. Mev. Dunhan het die afgelope sewe jaar 'n bestuurskool in die dorp bedryf. Na 'n vergadering van mev. Dunhan met mnre. Thomas Ndwambi en Lampies Schoeman, kon mev. Degenaar haar toets hervat.

Mnr. Ndwambi, Bestuurder: Beskermingsdienste het op Dinsdag, 8 Julie erken dat daar so 'n voorval was. Mnr. Ndwambi het gesê dat hulle besluit het dat alle bestuurskole handelslisensies en instrukteursertifikate moet inhandig. "Alle bestuurskole het hul dokumentasie ingehandig, behalwe die Go Pro bestuurskool. Niemand mag sonder daardie dokumentasie opereer nie. Die dame van Go Pro het ook nie die vergadering bygewoon waarop daardie besluit gemaak is nie," het mnr. Ndwambi gesê.

Hy het gesê dat, alhoewel applikante enige toepaslike voertuig mag gebruik vir hul toets, hy nie wil hê dat mev. Dunhan se voertuig gebruik moet word nie. Wat die instrukteursertifikaat betref, het mnr. Ndwambi gesê dat mev. Dunhan definitief die toets geslaag het, maar dat die prosedure by die Departement van Vervoer baie lank neem.

Mev. Dunhan sê dat sy geen kennisgewing van die betrokke vergadering ontvang het nie. Tydens 'n vorige vergadering met die bestuurskole, is die hele vergadering in Venda gevoer, ten spyte van 'n versoek om dit in Engels te doen.

Mev. Dunhan sê verder dat sy nooit probleme ondervind het toe die bestuurskole direk onder die Departement van Vervoer in Polokwane geresorteer het nie. Haar nagmerrie het begin toe die bestuurskole se hantering oorgeskuif is na die plaaslike munisipaliteit.

"Ek is verbied om te praktiseer en skynbaar mag ek ook nie my voertuig uitleen aan wie ek wil nie. Nog voor mev. Degenaar se geval, het ek my voertuig gratis beskikbaar gestel aan past. Mike Dippenaar vir die gebruik van 'n kind wat hy geleer bestuur het. Mnr. Ndwambi het aan my gesê dat hy baie ontevrede daaroor is. Ek weet nie of hulle op my spioeneer of wat nie," sê mev. Dunhan.

Mev. Dunhan vertel dat sy ten einde raad weer haar instrukteursertifikaatstoets by die munisipaliteit gaan aflê het. Vir die skriftelike deel was daar nie 'n stensil beskikbaar om haar toets te merk nie en sy sê dat daar uiteindelik een van Dzanani af bestel is. Sy het al gewonder of daar teen haar as blanke dame gediskrimineer word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines