

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 June 2013
Persone wat die burgerlike vliegveld net buite Makhado (Louis Trichardt) gebruik, sien met verwagting uit na die moontlike opgradering van die munisipale vliegveld.
Die vliegveld is tans gelisensieerd vir uitsluitlike gebruik in die dag. Die nagligte wat die landingsbaan moet verlig, is al ten minste twee maal gesteel.
Volgens die Zoutpansberg Vliegklub se voorsitter, mnr. Brian Jefferies, is daar tans gelukkig nie ‘n probleem met rondloperbeeste op die landingstrook nie. “Die beeste is ‘n bietjie stil. Die grootste probleem is die feit dat ons nie in die nag kan land nie,” het Jefferies verlede week gesê. Hy het met dank verwys na mnr. Pieter Schlesinger van die vliegklub wat gereeld met die Makhado Munisipaliteit oor die vliegveld kommunikeer.
Schlesinger was versigtig optimisties dat ‘n moontlike bedrag van R250 000 wat begroot is, dinge by die vliegveld kan verbeter.
‘n Vlieënier en voormalige lid van die vliegklub, mnr. Pieter Pretorius, het verlede maand vanaf Nelspruit gevlieg en op die munisipale vliegveld geland. Hy was verbaas om ‘n nuwe naambord en naam by die vliegveld aan te tref. Die vliegveld, wat in 1984 amptelik deur minister Hendrik Schoeman geopen is as die Louis Trichardt Munisipale Vliegveld, spog met ‘n nuwe naambord waarop “Tshikota Airstrip” pronk. Sy pa , wat ook lanklaas daar was en hom kom haal het, was geskok om te sien dat die nuwe gebou onklaar gelaat is en reeds begin kraak het. Volgens die sekuriteitswag wat al ‘n bietjie meer as ‘n jaar daar werk, huisves die nuwe gebou rolle drade vandat hy daar begin werk het.
Die verwikkeling met die naambord is aan die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging gemeld, wat die Zoutpansberger gevra het om ondersoek in te stel.
Die vliegklub self het tot dusver geen amptelike beswaar teen die nuwe naam ontvang nie. “Ons dink aan die toekoms van die vliegveld. As dit hulle gelukkig maak, dan moet hulle die naam verander. Jy kan kies of jy aggressief wil wees en of jy rustig wil wees en wil saamwerk. Dit is vir ons belangrik dat die vliegveld gelisensieerd moet wees,” sê Jefferies.
Die munisipaliteit in Mokopane het hulle vliegveld se lisensiëring ongedaan gemaak, sodat vlieëniers nou op eie risiko sonder enige versekeringseis daar land.
Daar is egter persone wat meen dat ‘n vliegveld se naam nie net sommer verander kan word nie en dat dit implikasies vir burgerlike lugvaart het. Ander sê dat die lugvaartkodes voldoende is. Daar is egter meer vrae as antwoorde.
Schlesinger sê dat ‘n vlieënier sy lugvaartkaarte gebruik en nie omgee watter naambord by die vliegveld is nie. Die internasionale burgerlike lugvaartorganisasie (ICAO) gebruik die kode FALO om na die plaaslike vliegveld te verwys. IATA (Internatonal Air Transport Association ) gebruik die lughawe kode LCD.
Die nasionale burgerlike lugvaart organisasie (SACAA) het teen druktyd nog nie die vrae in verband met die naam beantwoord nie.
Vrae in verband met die beoogde opgraderings by die vliegveld, die begroting daarvoor en die verwagte voltooidatum is aan die munisipaliteit gestel. “Ons versoek die koerant vriendelik om die munisipaliteit ruimte te gee om die saak intern en bevredigend te hanteer. Die media sal ingelig word wanneer die saak gefinaliseer is,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi geantwoord.
Wat die nuwe naambord en die munisipaliteit se kommunikasie met SACAA, indien enige, betref, was die antwoord nog meer vaag. Daar is gesê dat “die saak nog ondersoek word”.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
