

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 June 2013
“Daar is nie iets soos toeval in jou lewe nie … alles wat met jou gebeur is ‘n bestiering,” sê tannie Makkie de Beer (76) wat na ‘n mislukte selfmoordpoging amper vier jaar gelede begin boeke skryf het.
Daar het nie minder nie as vyf boeke reeds uit haar pen verskyn.
Agt jaar nadat tannie Makkie na Makhado (Louis Trichardt) getrek het, het sy in Junie 2009 op die nat kombuisvloer geval en beserings opgedoen wat haar vir maande magteloos in die bed gelaat het. “My kinders het 24-uur versorging vir my gehuur, maar die lewe het vir my ‘n straf geword. Ek het gevoel dat ek ‘n las vir my kinders was en ek het my selfmoordpoging sorgvuldig tot op die letter beplan,” sê tannie Makkie. Wat die oordosis slaappille nie kon regkry nie, moes die plastieksak oor die kop regkry. Dit was ‘n bestiering dat haar goeie vriendin wat kom oorbly het om met die versorging te help, wakker geword het van die sak se geraas en dadelik hulp ontbied het.
Haar vier seuns en skoondogters en haar kleinkinders het alles in hulle vermoë gedoen om vir tannie Makkie weer sin in die lewe te laat vind. Tannie Makkie woon in ‘n woonstel by haar jongste seun, Buks. “Een van die dinge wat vroulief Suzette gedoen het om haar weer aan die gang te kry, was om vir haar ’n pak oefeningboeke en ‘n bondel potlode te koop. Die idee was om haar te kry om haar emosies neer te skryf. Sy het begin skryf, maar nie wat ons gedink het nie – sy het begin stories skryf ,” vertel haar oudste seun, Jaco, wat in Hoedspruit woon.
Uiteindelik het tannie Makkie na tuismassering weer leer loop met ‘n bruggie of stootkarretjie. Binne in die huis is die rolstoel egter vir tannie Makkie die gemaklikste en sy gebruik dit vandag nog. Seepglad rol sy om die tafel na die stoof, waaruit sy heerlike gebak optower, na die skootrekenaar waar die stories deesdae geskep word.
Aanvanklik het tannie Makkie haar stories eers in ‘n oefeningboek geskryf en later oorgetik op die rekenaar. “Maar die gedagtes kom so vinnig dat ek later so lelik skryf. Vandag tik ek direk op die rekenaar. Ek is die Here so dankbaar. Ek kan nie ‘n boek uit myself skryf nie. Die Heilige Gees help my. As ek vashaak vra ek net ‘Here, help my asseblief’,” sê tannie Makkie. Oor hoe sy dit reggekry het om vyf boeke sedert 2010 te voltooi, lag tannie Makkie: “Ek speel nie, my kind!”
Gees van die Labrador is saam met Drie Rivierplase deel van die Riemlandreeks, wat handel oor die plaaslewe by rivierplase in die Noord-Oos Vrystaat net na die Tweede Wêreldoorlog. Vervolgens skryf tannie Makkie ‘n reisverhaal, Erfgenaam vir Groenvlei ('n reis deur Suidwes), Skemer oor Aasvoëlkop, wat afspeel in die Waterberge en Die van der Merwes van Diepkloof, met as agtergrond die harde wêreld Noord van die Soutpansberg.
Tannie Makkie sê dat sy baie van haar feite kry uit die skryfwerk van haar oorlede man, B. K. de Beer, wat onder andere Agter die Magalies, ‘n geskiedkundige navorsingswerk oor die Brits-omgewing, geskryf het. Tannie Makkie (‘n nooi Van Wyk) het ook onlangs die familiegeskiedenis van die De Beers en die Van Wyks opgeteken.
“Miskien kan die boertannie uit die Soutpansberg dien as inspirasie vir baie ander oumensies wat dalk verlore en nutteloos voel,” sê haar kinders. Hulle is trots op hul gryse moeder wat die lewe weer met altwee hande aangegryp het en met soveel deursettingsvermoë in haar rolstoel sit en met twee vingers op die rekenaar tik.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
