

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 June 2013
Die Afrikaanse lewensoriënteringvraestel het die Graad 12’s van Hoërskool Louis Trichardt laat kopkrap.
Die vraestel het maar moeilik gelees, omdat spasies tussen die woorde grotendeels uitgelaat is.
“Ons het die vakadviseur laat weet en ook die eksamenafdeling in kennis gestel, aangesien dit ‘n provinsiale vraestel is. Ons het ook ‘n Engelse vraestel beskikbaar gestel aan die wat dit wou hê en ekstra tyd aangebied,” het die skoolhoof, mnr. Henry Denner, op 30 Mei gesê. Die vraestel is op 24 Mei geskryf.
‘n Paar Graad 12’s is gevra hoe hulle die vraestel gevind het, onder wie Janeska Pretorius, Claudé Lombaard en Carin Barkhuizen. Carin het almal se reaksie mooi opgesom toe sy gesê het dat die vraestel se gebrek aan spasiëring dit vir hulle moeilik gemaak het en dat dit duidelik nie gehalte werk was nie. "Die uitlaat van die spasies was die ergste by die langer tipe vrae," sê Carin. Nie een van hulle het egter van die ekstra tyd gebruik gemaak nie.
Me. Johanna Steyn, die onderwyser by die skool wat verantwoordelik is vir lewensoriëntering, het bevestig dat geen van die Graad 12’s vir ekstra tyd gevra het nie en dat twee of drie vir ‘n Engelse vraestel gevra het. “Ons ontvang die vraestelle elektronies. Wat ons vermoed is dat dit ‘n Windows-probleem is wat veroorsaak dat die spasies weggegooi word wanneer die vraestel nie met presies dieselfde program oopgemaak word as waarin dit getik is nie. Ons rekenaarmense sê dat dit op die oomblik ‘n algemene ding is,” het me. Steyn gesê.
Met die druk van die vraestel het die skool opgelet dat die hele Engelse vraestel piekfyn was, asook die instruksie-voorblad van die Afrikaanse vraestel. “Ek voel baie sleg daaroor dat ek nie vooraf ook die binneblaaie van die Afrikaanse vraestel nagegaan het nie, maar ek gaan die situasie positief gebruik om weer probleemoplossing met die kinders te bespreek. Probleemoplossing vereis emosionele volwassenheid om onmiddellik by ‘n nuwe situasie te kan aanpas en die probleem op te los. Alles loop nie altyd reg in die lewe nie; die lewe is vol verrassinkies. Probleemoplossing is ‘n vaardigheid wat in lewensoriëntering aangeleer word,” sê Steyn en voeg by dat die antwoordstelle wat sy al gemerk het, sover goed lyk.
Die Junie lewensoriëntering-vraestel is die tweede laaste van vyf “take” wat voltooi moet word vir die finale punt op die matrieksertifikaat. Die laaste “taak” is die nasionale eksamen wat ten tye van die rekordeksamen geskryf word, waarna die vak afgehandel is. Gedurende die eindeksamen word daar nie ‘n lewensoriënteringvraestel geskryf nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
