ADVERTISEMENT:

 

Staat sluit saak teen plaaslike sakeman

 

News  Date: 07 June 2013

 

Die Staat het vandeesweek hul saak gesluit teen die sakeman van Makhado (Louis Trichardt)  wat daarvan beskuldig word dat hy honderde duisende rande van sy werkgewer gesteel en uitgedobbel het.

Die 52-jarige Jacobus Christiaan Oosthuizen, beter bekend as Jack, het Maandag weer in die Streekhof hier verskyn. Hy het reeds tydens ‘n vorige hofverskyning onskuldig gepleit op die klag van diefstal teen hom. Oosthuizen se medebeskuldigde, Jacques Julian Koch (36), wat reeds op dieselfde klagte skuldig bevind is, het vir die Staat teen Oosthuizen begin getuig.

Koch is in Augustus 2011 ses jaar direkte gevangenisstraf opgelê. Hy het getuig dat hy en Oosthuizen meer as R200 000 se kontant van kliënte verduister het. Hulle was gedurende 2010 werksaam by Bridge Auto in Makhado (Louis Trichardt) se tweedehandse voertuigafdeling. Oosthuizen was ‘n bestuurder gewees en Koch ‘n verkoopsman.  Al die geld ter sprake was afkomstig van Bridge-kliënte wat motors kontant gekoop of verkoop het.

Volgens Koch het hy en Oosthuizen saam die geld uitgedobbel by Meropa Casino buite Polokwane. Verder het Koch getuig dat hy eerste uitgevang en voor stok gekry is oor die geld wat weg is. Hy het ‘n skulderkenning geteken waarin hy onderneem het om die geld in paaiemente aan sy werkgewer, mnr. Rampie Gilfillan, terug te betaal. Hy het ook verder getuig dat  Oosthuizen kort vóór sy hofsaak vir hom ‘n voorbereide verklaring gebring het om te teken en in te dien as ‘n bykomende verklaring. Koch het gesê dat hy nie hierdie verklaring onderteken het nie, want dit het nie alleenlik ander “ongerymdhede” in die maatskappy uitgewys nie, maar ook vir hom as die enigste sondebok voorgehou.

Tydens Maandag se hofverrigtinge het  Koch sy getuienis afgesluit. Hierna het Gilfillan vir die Staat begin getuig oor ‘n dobbelkaart van Meropa Casino wat hy ontdek het in Oosthuizen se maatskappy voertuig.

Hierdie kaart het aan Oosthuizen behoort. Nadat Gilfillan klaar getuig het, het die bestuurder van Meropa Casino getuig oor die bedrae wat op die kaart gewen en verloor is. Daar is by tye 'n verloor van R75 000 aangeteken op die kaart. Hierna het die Staat hul saak afgesluit.

Oosthuizen se saak is uitgestel tot 15 Julie, wanneer hy na verwagting sal begin getuig.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines