

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 June 2013
‘n Jong inwonertjie van Makhado (Louis Trichardt) sal binnekort plastiese chirurgie moet ondergaan om sy regteroor te herstel, nadat ‘n bulterriër dit met een hap afgebyt het.
Die sewejarige Kyle Bezuidenhout was by sy naskoolsentrum toe hy die terriër opgetel het om in te vat huis toe. Die hond het omgeswaai en sy oor gehap. Die voorval het op Woensdag, 8 Mei, gebeur.
Die knaap, wat 21 steke moes kry om die wond toe te maak, het Maandag vol bravade vertel wat met hom gebeur het. “Kyk, ek het nog een steek in my oor!”
Wat van sy oor geword het, sê Kyle, weet hy nie, maar hy dink dat die hond dit sekerlik ingesluk het. Die hond is dieselfde middag wat hy vir Kyle gebyt het, uitgesit deur sy eienaars. Vir Kyle se ma, Amanda, was dit ‘n traumatiese ervaring.
Kyle is van die naskoolsentrum na die Prognos Mediese Sentrum geneem, waar dr. Meyer gehelp het om hom te stabiliseer, voordat Kyle oorgeplaas is na die Steve Biko Hospitaal in Pretoria. “Hy het twee lakens vol gebloei,” het Amanda vertel.
Dokters moes Kyle vier keer inspuit en nog steeds is die area om sy oor nie heeltemal verdoof nie. Ten spyte hiervan, vertel die jonge Kyle, het hy nie eens eenkeer gehuil nie. “Ek het net so bietjie gevoel hoe sit hulle die steke in,” het Kyle gesê.
Die voorval, het Amanda gesê, het haar net weer van vooraf bewus gemaak dat honde onvoorspelbare diere is. Sy het ander ouers aangeraai om waaksaam te wees en hulle kinders te leer om versigtig met diere te werk.
Noudat die wonde aan Kyle se oor al amper herstel het, sal Kyle binnekort chirurgie moet ondergaan om sy oor weer op te bou. Die eerste opsie sal wees om ‘n stukkie van sy rib te vat en dan daarmee die kraakbeen in sy oor weer van nuuts af oor te bou. Daar is ook ander mediese opsies waarna Amanda kyk, maar soos so dikwels die geval is, kos sulke operasies derduisende rande.
Wat die kostes betref, het Round Table Zoutpansberg 66 aangebied om uit te help. Hulle het, toe hulle van Kyle se geval hoor, besluit om ‘n fonds vir hom te stig. Al die fondse wat hulle insamel sal aangewend word vir Kyle se mediese onkostes.
Enige iemand wat graag ‘n donasies wil maak kan dit in die Tafellaars se bankrekening inbetaal. Die rekeningbesonderhede is RT 66 Kyle Bez, rekeningnommer 62413646029, Eerste Nasionale Bank, takkode 260 149.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
