

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 June 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Mev. Jana Smith, voorsitter van die Soutpansberg Sakekamer, het die afgelope week namens die Sakekamer haar waardering uitgespreek teenoor die ingenieursfirma wat tans die opgradering van die N1 binne die dorpsgebied hanteer.
Mev. Smith het hulle veral geloof vir hul menslikheid ten opsigte van die tydelike verwydering van die kruisies waar die Du Preez-kinders in Maart verongeluk het by die N1/Stubbsstraat-kruising. Sy het hulle ook bedank vir die waarskuwingstroke oor die pad om motoriste vroegtydig te waarsku van die aankomende stopteken.
Volgens inligting behoort die pad teen die einde van Junie voltooi te wees. Die bane sal teen einde Julie geverf wees, wat verkeersvloei geweldig sal aanhelp. Voorsiening word ook gemaak vir spesifieke bane na al die links-afdraaie en dubbelbane vir die noord- en suidverkeer.
Tans word daar nog gewerk aan verskillende voorstelle en idees om die N1/Stubbsstraat-kruising veiliger te maak. Dit behels onder andere 'n verpligte stop vir swaarvoertuie voor die sandput met 'n spesifieke baan net vir swaarvoertuie tot by die eerste kruising as hulle van die berg afkom. Die Soutpansberg Sakekamer is ook steeds besig om 'n afspraak met die Minister van Vervoer en SANRA te reël, sodat alternatiewe voorstelle voorgelê kan word.

ADVERTISEMENT:
