ADVERTISEMENT:

 

Generic Image

Rowers raak al meer vindingryk om jou geld uit rekening te steel

 

News  Date: 14 June 2013

 

Moenie reken dat jy beskerm is en dat diewe nie by jou geld kan uitkom wat jy dink redelik veilig in die bank is nie. Bedrieërs raak al meer geslepe en het genoeg geduld om maande lank te beplan en net vir die regte geleentheid te wag om jou hardverdiende geldjies by jou af te vat.

Zoutpansberger het na aanleiding van die plaaslike insidente van kaartbedrog en diefstal bietjie gaan uitvind hoe die bedrieërs te werk gaan en ook probeer kyk wat mens kan doen om seker te maak jy word nie ‘n teiken van hierdie misdaadsindikate nie.

Die webtuiste, mybroadband.co.za, het ‘n maand gelede ‘n insiggewende artikel gepubliseer oor hoe die kriminele te werk gaan. Dit, tesame met ander inligting wat gepubliseer is, skets ‘n donker prentjie.

KRY DIE BESONDERHEDE

Die eerste probleem wat die bedrieër moet oorkom, is om die slagoffer se rekeningbesonderhede te kry. Dit word op verskeie maniere gedoen, maar die gewildste is die sogenaamde “phishing”-aanvalle. ‘n E-pos word byvoorbeeld uitgestuur om te sê dat die SA Inkomstediens jou geld skuld. Hierdie slenter werk veral goed in die periode nadat belastingopgawes ingedien is. Gebruikers wat op die skakel klik word dan geneem na ‘n webtuiste wat baie lyk soos die een van die SAID (SARS). Terwyl gebruikers nog dink hulle help die inkomstediens om hulle rekeningbesonderhede te bevestig, word die inligting gebruik om die skelms se databasis aan te vul.

Laasgenoemde gebruik ook ander metodes soos SMSe waar gebruikers “gewaarsku” word dat verdagte aktiwiteite op hul bankrekeninge bespeur is. Gewoonlik word hulle kort hierna geskakel deur die “verteenwoordiger” van die bank se bedrog-afdeling. Weer word die bankbesonderhede op slinkse wyse ingesamel.

BEHEER DIE SELFOON

Die volgende probleem wat die bedrieër moet oorkom, is om die geld te kanaliseer na ‘n begunstigde. Dit is nie so eenvoudig nie, want die meeste banke gebruik ‘n proses waar ‘n bevestigingsnommer na jou selfoon gestuur word alvorens die begunstigde gelys kan word.

As die bedrieërs in hierdie stadium nog nie reeds jou selfoonnommer gekry het nie, is daar verskeie maniere waarop hulle dit doen. ‘n Oproep na jou werk mag dalk die gewenste uitwerking hê of hulle probeer deur jou profiel gaan op sosiale netwerke soos Facebook.

Wanneer hulle die selfoonnommer het, probeer hulle ‘n “SIM swap” doen. Hier is die hulp van iemand wat werk by een van die selfoonoperateurs soms nodig. Dit is egter ook moontlik dat die bedrieërs ook die selfoonoperateurs teiken en inligting steel wat hulle in staat stel om die SIM-kaarte te “kloon”.

Teen die tyd dat die gebruiker agterkom dat sy of haar selfoonnommer nie meer werk nie, is dit gewoonlik reeds te laat. Die misdade word dikwels ook oor naweke gepleeg wanneer dit moeiliker is om banke en verskaffers dadelik in die hande te kry.

KOM WEG MET DIE GELD

Die bedrieërs se laaste probleem is om die geld uit die rekening te kry van die begunstigde. Banke is verplig om alle rekeninge wat geopen word eers te verifieer, d.w.s. hulle moet seker maak dat hulle genoeg inligting het om die persoon weer te kan opspoor. Dit sou dus, in teorie, maklik wees om die krimineel vas te trek want die bank kan dadelik agterkom waarheen die geld oorgeplaas is.

Ten einde die probleem te oorkom, gebruik die kriminele steeds bankrekeninge wat met vals besonderhede geskep is, of hulle gebruik ander mense wat met slim stories oortuig word om hul bankrekeninge hiervoor beskikbaar te maak. Hulle sal byvoorbeeld aan iemand in ‘n taxi die hartseer storie vertel dat hulle nuut in die dorp/stad is en dat hulle pas by ‘n onderneming begin werk het. Hulle nuwe baas weier egter om hulle salaris in kontant uit te betaal en hulle het nog nie ‘n bankrekening nie. Die “slagoffer” word dan gevra of sy bankrekening net tydelik gebruik kan word en in ruil daarvoor sal hy of sy R100 of meer ontvang.

WAT KAN EK DOEN?

Een van die belangrikste dinge wat ons gewone mense kan doen, is om NOOIT rekeningbesonderhede soos gebruikersname en wagwoorde (PIN nommers) bekend te maak aan ander partye nie. (Selfs nie eers die persoon by die bank sal daarvoor vra nie). Moenie klik op skakels wat via e-pos of SMS kom en besonderhede invul nie.

Wees ook versigtig vir gevalle van identiteitsdiefstal. Hierdie bedrieërs gaan selfs deur jou vullis om te sien of daar dalk ou bankstate is of dokumentasie wat jou ID nommer en ander inligting bevat. Hierdie inligting word weer gebruik om jou vertroue te wen en jou sover te kry om verdere besonderhede aan die bedrieërs te verskaf.

Wees uiters versigtig! As jy nie seker is of die oproep/SMS/e-pos wettig is nie, skakel die instansie wat dit "gestuur" het en doen navraag. In die oorgrote meerderheid van gevalle sal jy agterkom hulle weet niks daarvan nie.

 

Written by

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines