ADVERTISEMENT:

 

Polisie se optrede openlik rassisties, kla Levubu-gemeenskap

 

News  Date: 11 July 2003

 

LEVUBU – Die polisie se skynbare onvermoë om misdaad te bekamp, tesame met 'n misplaaste rassistiese aksent op die regte van misdadigers, het die afgelope week as fokuspunt gedien van toenemende ongelukkigheid onder inwoners.

'n Memorandum is Vrydag (4de) aan die stasiebevelvoerder op Levubu oorhandig, tydens 'n massavergadering wat belê is na 'n vlaag van misdaad waarin minstens drie inwoners onder gewapende aanvalle moes deurloop en een in 'n aanval in sy woonhuis ernstig verwond is.

Die vergadering het tevergeefs gewag op die Area Kommissaris, wat onder meer moes verduidelik waarom daar geen reaksie was op 'n gewapende aanval deur vier rampokkers nie, terwyl 'n blanke boer wat homself moes verdedig teen die aanval van onwettige jaghonde op sy plaas, summier in hegtenis geneem is, toe selferkende wildstropers in die voorval per ongeluk gewond is.

Die gemeenskap is vooraf ingelig dat die Area Kommissaris die massavergadering op Levubu sou bywoon. Meer as 'n uur na die aanvang van die vergadering is daar aangedui dat hy nie meer kom nie. Geen rede vir sy afwesigheid is aan die vergadering verstrek nie.

In die memorandum aan die plaaslike polisiehoof sê die inwoners daar was in vier dae drie skietvoorvalle. Binne die bestek van 96 uur is daar 15 inbrake op Levubu aangemeld. Vier van die inbrake was verlede Woensdagaand en in een van die inbrake is die 72-jarige mnr. Fritz Wagner ernstig gewond.

Mnr. Wagner se gewapende aanvallers was vroeër dieselfde aand betrokke by 'n inbraak waarop die polisie nie gereageer het nie, ongeag die feit dat 'n polisievoertuig ten tye van die inbraak net 'n halwe kilometer vanaf die toneel was en die huiseienaar herhaaldelik tevergeefs polisiehulp ontbied het. Daar is 'n sterk vermoede dat die gewapende aanvallers ook die vorige Saterdag betrokke was by die aanval op mnr. Flip Botha - 'n aanval waarop die polisie, vyf dae nadat dit aangemeld is, nog nie gereageer het nie.

Inwoners het met hewige ontsteltenis gereageer op die nuus dat die gewapende aanval op mnr. Botha nie eers deur die polisiestasie as 'n ernstige misdaad by die SAPD se Kommunikasie- en Skakeldienste aangemeld is nie. Die voorval waarin drie onwettige wildstropers per ongeluk getref is deur haelkorrels, toe die eienaar van die plaas homself teen onwettige jaghonde moes verdedig, is egter onmiddellik as "Poging tot Moord" aan die polisie se Kommunikasie- en skakeldienste deurgegee. Die Area Kommissaris het ook persoonlik tussenbeide getree met 'n opdrag dat die blanke plaaseienaar onmiddellik in hegtenis geneem moet word. Die betrokke plaaseienaar, mnr. Deon Lubbe, het voor die hof verskyn op drie aanklagte van poging tot moord en is R1 000 borg toegestaan.

Tydens die massavergadering op Levubu, wat deur lede van alle bevolkingsgroepe bygewoon is, is ernstige bedenkinge geopper oor die onaanvaarbare standaard van optrede teen blanke plaaseienaars wat hulself en hul eiendom teen booswigte probeer verdedig. Gedurende vraetyd is Superintendent Rambau gevra om te verduidelik waarom daar doelgerig ingemeng word met die publiek se reg om 'n vuurwapen te gebruik vir die verdediging van persoon en eiendom en waarom gerespekteerde lede van die samelewing, met vaste werk en vaste adres, summier opgesluit moet word. Wetteloosheid word aangemoedig deurdat gereelde betreding op plase heeltemal verontagsaam word en onwettige immigrante openlik rondbeweeg. Daar is onvoldoende patrollering en sigbare polisiëring op die plase, in die omgewing en sakegebied. Daar is nooit genoeg voertuie nie en klaers moet soms etlike dae wag voordat die polisie opdaag. In die memorandum word ook melding gemaak van die polisie se onvermoë om misdadigers in hegtenis te neem en te vervolg, terugvoering te gee oor sake wat aangemeld is en leidrade op te volg wat deur die publiek aan hulle verskaf word.

Op 'n vraag wat die polisie nou na die jongste vlaag van misdaad op Levubu gaan doen, het Supt. Rambau gesê hy het in sy kantoor 'n volledige plan op papier om dit aan te spreek. Supt. Rambau se stelling dat die polisie op Levubu alles in hul vermoë doen om die gemeenskap te beveilig en gewoonlik onmiddellik op elke klag reageer, is met spontane gelag begroet.

Mnr. Corrie Halgryn, swaer van mnr. Wagner wat verlede Woensdagaand in sy huis geskiet is, het supt. Rambau daarop gewys dat hy vroeër dieselfde aand dringend hulp by die polisie gesoek het, toe dieselfde mense wat sy swaer geskiet het, by sy woonhuis ingebreek het en op heterdaad betrap is. Hy is meegedeel dat niemand beskikbaar is om sy klag te ondersoek nie, aangesien die enigste beskikbare voertuig besig is om 'n "klag van huisbraak elders te ondersoek. "Ek moes vir 'n uur wag, in die teenwoordigheid van mense wat nie huiwer om te skiet nie, terwyl die polisievoertuig sowat 'n halwe kilometer van my huis af besig was om verklarings af te neem," het mnr. Halgryn gesê. Hy het ernstige bedenkinge uitgespreek oor die professionaliteit en prioriteitstelling van die plaaslike polisie.

Die polisiestasie op Levubu beskik oor 79 personeellede en nege voertuie, waarvan net vier tans diensbaar is. Supt. Rambau het daarop gewys dat die area wat bedien word geweldig groot is en dat 'n satelliet polisiestasie op Tshakuma ook deur sy personeel beman word. Oor klagtes dat polisievoertuie dikwels vir private doeleindes benut word, het hy gesê dit is onmoontlik vir hom om oral by te wees. Op die vergadering is besluit om die bestaande prioriteitskomitee, asook die gemeenskapspolisiëringsforum, aktief te betrek vir nouer samewerking en deurlopende gesprekvoering oor die bekamping van misdaad. Die vergadering het gekom in die plek van 'n aanvanklike beplande protesoptog

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines