

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 June 2013
Die reservoirs is vol water! Hierdie wonderlike nuus is Maandag, 10 Junie, ontvang toe die Mowkop reservoir in die nuwe uitbreiding van Makhado (Louis Trichardt) die 100% merk gehaal het.
“Die Mowkop reservoir is die hoof waterverskaffer vir Makhado (Louis Trichardt) en is 100 % vol. Dit was laas in Oktober 2011 by die 100%-vlak. Ander reservoirs is ook 100% vol, insluitende die Bergreservoir en Hospitaalreservoir wat ook help met water vir die dorp,” het die Vhembe Distriksmunisipaliteit se skakelbeampte, mnr. Moses Shibambu, Maandag gesê. Die Uitbreiding 7 reservoir is ook 100% vol.
Teen Maandagmiddag was die Mowkop reservoir 80 % vol, soos wat die water na ander dele geneem word. Dit is die bestaande Mowkop reservoir. Die nuwe een is nog nie heeltemal voltooi nie en sal water vanaf die Nandonidam ontvang.
Me. Ann Gilfillan is een van die inwoners wat baie dankbaar was. “Ons en ons kinders kon gisteraand … ‘n lekker lang warm bad vat,” het Gilfillan Dinsdag op AfriForum Louis Trichardt se Facebookblad gesê en die plaaslike AfriForum voorsitter, mnr. Wally Schultz, bedank.
Schultz het op sy beurt mnr. David Mukosi, Vhembe se Makhado waterdienste bestuurder, geprys. Schultz en Mukosi het nog Maandagoggend saam op Tshikota se reservoir rondgeklouter en Mukosi het die kleppe oopgedraai gekry. Teen Dinsdagoggend was die Tshikota reservoir 60% vol. Dinsdagaand het me. Rivhoni Tshuma van Tshikota gesê dat die water uit haar huis se krane “steeds sterk vloei.”
Me. Annemarie Kuhne van die middedorp, wat haar waterkalender noukeurig byhou, het Dinsdag gesê dat die water “baie goed” is. Nadat sy op 4 en 5 Junie nie ‘n druppel water gehad het nie, het sy vanaf 6 Junie elke dag vanaf 07:00 tot 15:00 of tot 16:00 water gehad. “Een bejaarde persoon het vir my gesê dat hy Maandagaand vir die eerste keer in vyf en ‘n half jaar water dwarsdeur die nag gehad het. Ekself het vir vyf en ‘n half jaar nog nooit water deur die nag gehad nie. Ek sal nie omgee as die water deur die nag aan is nie!” het Kuhne gesê.
Teen Dinsdagaand het Shibambu laat weet dat die water in ‘n gedeelte van Barnardstraat toegedraai is “omdat ‘n pypleiding beskadig is deur werkers wat die elektriese lyn herstel het”, maar die versekering gegee dat die tegnici die gebarste pyp spoedig sal herstel.
Wat is die rede vir die verbetering in die watervoorsiening? Gaan dit aanhou? Dit is vrae wat sekerlik in inwoners se gemoedere opkom.
Shibambu sê dat die watervoorsiening in die dorp grootliks verbeter het sedert die installering van ’n splinternuwe pomp by die Albasini watersuiweringsaanleg. Die pomp het R620 230 gekos en is op 7 Junie geïnstalleer. Mukosi sê dat hy aanbeveel het dat die ou pomp mettertyd herstel word en as bystandspomp gebruik word, maar dat geld vir onderhoud skynbaar ‘n probleem is.
Volgens Shibambu sal die “groot verbetering in watervoorsiening streng deur die tegniese span gemonitor word en as die watervlak konstant bly, kan daar oorweging geskenk word aan die verlenging van die ure waarop water verskaf word.”
Kuhne, die eerste applikant in die saak van AfriForum waarin ‘n tussentydse hofbevel van die Noord-Gauteng Hooggeregshof op 16 Mei verkry is dat Vhembe binne 90 dae water moet voorsien, sê dat Vhembe se mense gereeld na haar waterkalender kom kyk. “Dit lyk dus of daar iets aan die gebeur is,”sê Kuhne.
Schultz sê dat die watervloei kan aanhou as daar sekuriteit is en mense nie met die sisteme kom lol of diefstal kom pleeg nie. So byvoorbeeld is daar R2.4 miljoen se skade aan die dorp se boorgate in Desember 2011 aangerig. Shibambu sê dat agt van die dorp se buite boorgate in werkende toestand is en dat vier tans deur Belta Dienste herstel word. “Intussen het Mhinga nie water nie, as gevolg van kabeldiefstal. Damani wateraanleg se transformator is beskadig, maar Eskom gee daaraan aandag,” het Shibambu gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
