ADVERTISEMENT:

 

Generic Image

Hoe veilig is jou geld?

 

News  Date: 17 June 2013

 

Is jou hardverdiende geldjies veilig by die bank, of moet jy maar eerder die kaarte versnipper en plek inruim in die kluis? Dit is ‘n vraag wat heelparty inwoners vra, nadat hulle slagoffers geword het van bedrieërs wat geld uit hul bankrekeninge laat verdwyn.

Wiekus van der Walt van Levubu is een van die persone wat geteiken is en hy het R16 000 verloor, voordat die bank opgetree het en die betalings aan die skelms gestaak het. Die geld is in 16 transaksies gesteel oor ‘n periode van bietjie meer as vyf weke.

“Wiekus is nie iemand wat elke dag sy state nagaan nie en daarom kon die skelms vir ‘n rukkie wegkom daarmee,” sê sy vrou, Henriëtte. “So een keer per maand doen hy betalings en gaan deur sy state,” sê sy.

Einde Maart het Wiekus gesukkel om via die Internet sy banksake te doen en het ABSA se tolvrye nommer geskakel. “Hulle het my telefonies meegedeel dat hulle vermoed iemand peuter met my rekening en gevra om in te kom na die tak toe,” sê Wiekus. Volgens hom het hy in daardie stadium nie gedink dit is baie ernstig nie, want hy het geen SMS-kennisgewing gekry dat enige verandering op sy bankprofiel aangebring is nie.

Wiekus is na die Levubu Absa-tak toe, maar hul het hom verwys na Absa in Makhado (Louis Trichardt). Tydens 'n opvolg besoek aan die plaaslike tak is hy toe verseker dat die probleme wat hy ondervind het om toegang tot die rekening te kry nou reggestel is. “Ek het nie vir ‘n staat gevra nie, omdat ek nie enige onraad vermoed het nie. Ek is ook nie aangesê om my wagwoord te verander nie,” sê Wiekus.

Op Dinsdag, 7 Mei, wou Wiekus via die Internet sy banksake doen, net om agter te kom dat R16 000 net verdwyn het. Die bedrieërs het ‘n vals begunstigde geskep en 16 betalings aan ‘n sekere “Hendrik Schoeman” gemaak wat dadelik in kontant getrek is.

Wat Wiekus en Henriëtte ontstel is dat daar nooit enige SMS-kennisgewings deurgegaan het om hulle te waarsku dat ‘n nuwe begunstigde geskep is nie. Hulle kan ook nie verklaar hoe die skelms Wiekus se bankbesonderhede kon kry nie. “Wiekus memoriseer sy PIN en het dit nog nooit eers êrens neergeskryf nie,” sê Henriëtte.

Die Van der Walt-egpaar is egter minder beïndruk met die terugvoer vanaf die bank. In ‘n brief van ABSA simpatiseer die bank met hulle verlies, maar aanvaar nie verantwoordelikheid vir hulle skade nie. Die skuld word voor die deur van Wiekus gelê en hy word versoek om versigtig te wees en nie sy PIN en wagwoord aan iemand beskikbaar te maak nie.

ABSA was egter die afgelope maande in die spervuur rondom hierdie tipe bedrog en die vraag is gevra of hulle sekuriteitsmaatreëls streng genoeg is. Twee maande gelede is R360 000 vanuit die rekening van Media 24 se uitvoerende hoof, Elmarie Weideman, gesteel. Die ondersoek wat gevolg het, het gewys dat die bedrieërs baie geslepe is en swakplekke in die stelsel uitbuit. Die probleme is egter nie beperk tot ABSA nie en kliënte by ander banke word ook geteiken.

Nog ‘n inwoner wat die afgelope week geteiken is, is Braam Cronjé. Maandag (10de) het R28 000 vanuit sy kredietkaartrekening verdwyn. Dit het later geblyk dat die geld in nege transaksies in Europa gespandeer is. Gelukkig kon Braam die transaksies dadelik stop en kon hy sy geld terugkry.

“Dit wil lyk asof iemand op een of ander wyse my kredietkaartbesonderhede in die hande gekry het,” sê Braam. In hierdie geval lyk dit egter of dit ‘n sindikaat is wat van buite die land af werk, want die transaksies was in die Verenigde Koninkryk en Frankryk.

Dit is egter nie net individue wat geteiken word deur die bedrieërs nie. Die Zoutpansberger moes self ‘n maand of wat gelede lig loop vir die skelms. ‘n Gunsteling werkswyse van die skelms is om ‘n “verkeerde” inbetaling  in ‘n besigheid se rekening te maak en dan te vra dat die balans terugbetaal word.

In Mei is ‘n inbetaling van R94 727,50 in die Zoutpansberger se rekening gemaak met een van die koerant se gereelde kliënte as verwysing. Die volgende dag het die “rekeningbestuurder” geskakel en gesê dat hulle ‘n fout gemaak het. Die uitstaande bedrag op die kliënt se rekening was net R9 472,75. Hulle sou dit waardeer as die koerant so spoedig moontlik die verskil net terugbetaal.

Ongelukkig vir die bedrieërs is die Zoutpansberger se rekeninge-afdeling nie so liggelowig nie en verwag eers bewyse voordat geld net oorbetaal word. ‘n Dag later is die inbetaling weer omgekeer toe die bank agtergekom het dat die tjek gesteel is by ‘n besigheid aan die Oos Rand. Die saak is by Standard Bank se bedrogeenheid aangemeld, maar teen daardie tyd het die diewe reeds snuf in die neus gekry en die hasepad gekies.

“Uiteindelik moet gebruikers net baie, baie versigtig wees,” waarsku Henriëtte van der Walt. “Gaan maar gereeld jou state na en waak oor jou inligting.”

 

Written by

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines