

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 July 2003
MOPANE – Protes teen toenemende outoritêre owerheidsoptrede het op nasionale vlak 'n stewige hupstoot gekry met die alternatiewe tolroete wat hier op die plaas van mnr. Gideon Meiring geskep is. Die roete is geskep uit protes teen die wyse waarop tolhekbetalings op 'n gevaarlike onvoltooide tolpad op motoriste afgedwing word.
Op 'n krisisvergadering is hier 'n duidelike boodskap aan die Suid-Afrikaanse regering gerig om nie die bui van die publiek teen onverantwoordelike owerheidsoptrede te onderskat nie.
Die moontlikheid van verdere protesaksies is as 'n duidelike opsie voorbehou, na afloop van die krisisvergadering wat vandeesweek op Mopane plaasgevind het tussen verteenwoordigers van die meeste rolspelers en die Nasionale Padagentskap, wat verantwoordelik is vir tolpaaie.
Selfs verkeerspolisie, ambulanse en die SAPD het gretig van die ompad by die omstrede Baobab Tolplaza gebruik gemaak. Die Bokmakierie-ompad by die Kremetart Tolplaza het landwyd opspraak verwek. Hierdie gewilde alternatief is vandeesweek gesluit, na indringende samesprekings. Die omvang van verset teen die nasionale tolpadbeleid is op die vergadering weerspieël deur 'n gehoor wat 'n verteenwoordigende snit van alle belanghebbendes ingesluit het. Dit sluit ook die taxi-vereniging en die Nasionale Verbruikersforum in. Die publiek se ferm verwerping van outoritêre owerheidsoptrede is onomwonde gestel aan 'n senior verteenwoordiger van die Nasionale Padagentskap.
"Die sluiting van die alternatiewe tolhek is bloot 'n teken van voortgesette bereidwilligheid om redelik en akkommoderend op te tree. Die NPA het inderdaad die omstrede landswet aan sy kant. Ons het egter die morele hoë grond en die openbare mening agter ons," het mnr. Meiring na afloop van die vergadering gesê. Mnr. Meiring sê die vergadering het ingestem om die alternatiewe tolhek te sluit, nadat verskeie uitstaande sake, wat tot nog toe op dowe ore geval het, besleg is. Dit sluit in onmiddellike aandag aan besware teen die hoëmas beligting by die tolhek, tolhekkonsessies vir boere, die probleme met swaar voertuie wat by die hek oornag en uitstaande betalings deur kontrakteurs aan boere in die omgewing van die tolhek.
"Ons het in ons doel geslaag om die dilemma van die Suid-Afrikaanse padgebruiker baie duidelik landwyd onder die kollig te plaas. Daar is nou nog verskeie ander aangeleenthede waaroor ons sterk voel, wat baie vinnig sal moet aandag kry," het mnr. Meiring gesê.
Die voortslepende krisis met swaarvoertuie wat gedwing word om die gevaarlike onvoltooide tolpad oor die berg te gebruik en noodmaatreëls om weghol swaarvoertuie te akkommodeer, is ferm onder die aandag van die verteenwoordiger van die Nasionale Padagentskap gebring. Een van die mense op die vergadering het die aandag gevestig op nog 'n potensiële ramp wat vandeesweek afgeweer is, toe motoriste by die drie vierrigting-stopstrate in Makhado (Louis Trichardt) net betyds gewaarsku kon word van die aantog van 'n swaarvoertuig wat buite beheer geraak het in die aftog teen die berg. Die gehoor het aangedring op die spoedige voltooiing van die beoogde sandput by die noordelike ingang van die dorp aan die voet van die berg.
Oor die owerheid se roekelose verontagsaming van vertoë oor hierdie situasie, het mnr. Dries Joubert, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie op die vergadering gesê die skepping van 'n alternatief by die tolhek was een van die sagte opsies van protes. As die onverantwoordelike houding van die owerhede voortduur, kan ander opsies oorweeg word. Die verteenwoordiger van die Nasionale Padagentskap, mnr. Basie Nothnagel, het op besware teen die voortydige tolheffing by die nuwe tolhek gesê die stap word genoodsaak deur die astronomiese konstruksiekoste wat afgewerk moet word. As die R19 tolgeld vir sedanvoertuie nie nou al gehef word nie, sal sy agentskap by voltooiing van die tolpad verplig wees om tolgeld van R29,20 te hef. Om dit te voorkom, is die tolhek nou reeds geaktiveer.
Mnr. Meiring het in 'n onderhoud na afloop van die vergadering gesê: "Die vergadering het heeltemal begrip vir die koste-dilemma waarin die Nasionale Padagentskap homself bevind. Ons beskou dit egter as 'n heeltemal onnodige kunsmatige krisis wat geskep word deur die wanaanwending op regeringsvlak van geld wat regstreeks vir die instandhouding van paaie gehef word – soos byvoorbeeld die R1,30 heffing per liter brandstof. Die regering verhaal jaarliks nagenoeg R40 miljard op lisensiegelde en R18 miljard op heffings. Die agterstand op die instandhouding van die land se paaie kan gerieflik gedelg word as al hierdie geld – insluitende die tolhekheffings - inderdaad aangewend word vir die doel waarvoor dit gehef word. Die geld word egter stil-stil vir ander doeleindes gebruik en die verantwoordelikheid word eenvoudig op private instansies afgewentel. As al die geld deur die regering gebruik word vir die bestemde doel, sal ons baie minder tolpaaie nodig hê."
Die vergadering het daarop aangedring dat daar aan die publiek rekenskap gegee moet word van wat met al die geld gebeur en waarom die heffings nie vir die padboudoeleindes gebruik word nie. Die gevoel is dat padgebruikers inderdaad op 'n onverantwoordelike wyse verplig word om dubbel te betaal vir paaie - lisensiegeld, brandstofheffings en nog tolgeld ook.
"Terwyl ons die dilemma van die Suid-Afrikaanse padgebruiker baie duidelik onder die nasionale soeklig geplaas het, het ons ook aan alle Suid-Afrikaners bewys dat ons as verbruikers nie net hoef te sluk wat op 'n onverantwoordelike wyse op ons afgedwing word nie. Ons het bewys dat ons as verbruikers ook tande het, as ons met verantwoordelike waagmoed saamstaan. Alle lede van die publiek moet besef dat hulle gesamentlik baie meer voortgesette druk oor sulke aangeleenthede op die owerheid moet uitoefen, in die belang van 'n werklike gesonde demokratiese bestel," het mnr. Meiring gesê
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
