

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 May 2002
LOUIS TRICHARDT – Steve Marais, 'n vlieënier van Johannesburg wat die afgelope naweek 201 opstygings en landings geregistreer het binne 'n 24 uur periode, kan heel moontlik binne die volgende paar maande sy naam in die Guinness Book of Records sien pronk.
Die ou Guinness-rekord was 157 opstyg en landings en is opgestel deur Edward Oppermann van Houston Texas in Amerika. Steve het dié rekord reeds vroeg Sondagoggend verbygesteek, nadat hy net na 15:00 Saterdag opgestyg het. Hy het 'n gemiddeld van ses minute en sewentien sekondes per landing gehandhaaf, ten spyte van heelwat probleme wat amper sy poging in die wiele gery het.
Steve vertel dat die wind Saterdag in die teenoorgestelde rigting gewaai het as waarin hy aanvanklik geoefen het. Gelukkig genoeg was die aandlug baie meer stabiel, maar probleme met sy alternator het toe veroorsaak dat hy bykans 'n uur en vyftien minute verloor het. Hy is nie toegelaat om die alternator te vervang nie, waarna hy gebruik moes maak van twee batterye – een in die vliegtuig, terwyl een weer herlaai word. Asof dit nie genoeg was nie, het naarheid hom beetgepak kort na sy 180ste opstyg en landing Sondagoggend vanweë hewige turbulensie en honger. Sy dieet is toe met hoë energie lekkergoed aangevul om hom deur die laaste paar ure van sy poging te help.
Steve se wêreldrekordpoging was onderworpe aan vier vereistes, naamlik dat hy van twee vliegvelde gebruik moet maak wat ten minste 16km uitmekaar is, dat die vliegvelde as lughawens aangedui moet word op lugkaarte, dat alle opstygings en landings deur 'n derde party bevestig moet word en dat landings slegs sal geld indien al die vliegtuig se wiele gelyktydig op die grond is. Hy het van die siviele lughawe buite Louis Trichardt en Lugmagbasis Louis Trichardt gebruik maak, aangesien dit die enigste vliegvelde is wat aan bogenoemde vereistes voldoen het. Daarbenewens het beide ook oor ligte op die aanloopbane beskik vir naglandings.
Steve sê die rede waarom hy besluit het om 'n nuwe rekord op te stel, was omdat hy verveeld geraak het met die normale manier van vlieg. Hy sê dat hy in Desember verlede jaar die eerste keer met Guinness kontak gemaak het, maar dat hy deurlopend skepties was dat hy toestemming van Burgerlike Lugvaart en die Suid-Afrikaanse Lugmag sou kry om die poging aan te pak. Dit was eers nadat dié twee partye belangstelling begin toon het, dat hy besef het sy idee gaan realiteit word.
Steve sê die dokumentasie rondom sy rekordpoging sal eersdaags na Guinness in London gestuur word vir oorweging. Die gegewens is reeds deur Burgelike Lugvaart geverifieer en die kanse is goed dat sy naam binne die volgende paar maande in die Guinness Book of Records opgeneem sal word. Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat sy poging moontlik gemaak het, insluitend die gemeenskap van Louis Trichardt, Suid-Afrikaanse Lugmag, Burgerlike Lugvaart, die Makhado Munisipaliteit en Michael en Siggie Jefferies.
Wat toekomsplanne betref sê Steve dat hy oorweeg om in 2003 met sy Piper Cherokee 235, die einste vliegtuig wat hy die afgelope naweek gebruik het, na die lugkou in Oshkosh Minnesota in Amerika te vlieg.

ADVERTISEMENT:
