ADVERTISEMENT:

 

Gewapende rowers slaan toe by Werda Motors

 

News  Date: 11 July 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Gewapende rowers het vandeesweek helder oordag hier toegeslaan en 'n vulstasie van derduisende rande beroof.

Twee gewapende rowers het 'n egpaar by Werda Motors Maandagmiddag tydens die etensuur verras, van hul persoonlike besittings beroof en met R38 500 en 'n pistool uit die onderneming se kluis weggekom. Die waaghalsige roof het net etlike minute geduur.

Die rooftog is uitgevoer met 'n gesteelde voertuig, 'n blougrys Volkswagen Jetta, wat later naby Elim aangetref is. Die rowers was teen druktyd steeds op vrye voet. Personeel van Werda Motors, Louw en Rosie Venter, was alleen tydens die etensuur in die kantoor, toe die deur skielik oop geforseer is en twee gewapende mans hulle gedwing het om op die vloer te gaan lê. "Hulle het gevra vir die kluis se sleutels, maar ek het gesê die sekuriteitsmense is reeds weg met die geld en die sleutels," het Mnr Venter na die skokkende ondervinding gesê. Die rowers het egter die kantoor deursoek en die sleutels in die laai gevind. Nadat hulle die geld en pistool uit die kluis verwyder het, het hulle saam met 'n derde rower in die voertuig weggesnel.

"Voordat hulle uit is, het die een rower 'n vuurwapen teen my nek gedruk en gesê 'You lied to me'. By die deur het hy omgedraai en 'n skoot in ons rigting gevuur. Die koeël is 'n paar sentimeter bokant my kop verby," het Mnr Venter gesê. Die polisie is intussen ontbied en het vinnig gereageer. Die pompjoggies het die voertuig se registrasienommer aan die polisie verstrek.

Hoewel niemand in die voorval beseer is nie, moes Mev. Venter vir skok behandel word na die traumatiese gebeure.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines