

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 June 2013
Die Makhado Munisipaliteit gaan in die nuwe finansiële jaar slegs sowat 8% meer aan kapitale projekte in die munisipale gebied bestee as verlede jaar, wat die kapitale begroting vir 2013/2014 op sowat R134 miljoen te staan bring.
Die Raad se bedryfskoste vir die volgende jaar is heelwat meer en R722 miljoen is daarvoor begroot. Die inkomstes hou egter nie tred met die stygende uitgawes nie en daar sal na verwagting ongeveer R692,5 miljoen ingevorder word. Die Raad het dus tydens hul spesiale vergadering van 30 Mei vir ‘n tekort van R29,5 miljoen begroot, wat kommer gewek het.
Die nuwe boekjaar se kapitale projekte word befonds uit die bedryfsinkomste (R32,38 miljoen of 24%), die munisipale infrastruktuur toelae (MIG) van R86,7miljoen of 46,5%, die geïntegreerde nasionale elektrifiseringsprogram (INEP) wat R15 miljoen of 11% bydra en ‘n finansiële bestuurstoelae van R319 765 (0.5%).
Soos verwag is, bestaan 95.7% van die kapitale begroting uit projekte wat deur die tegniese dienste departement bestuur word en hulle het R128,62 miljoen tot hul beskikking. Die siviele en elektriese ingenieursafdelings sluk uiteraard die grootste deel van hierdie 95.7% in.
Vir die siviele ingenieursafdeling is R93,82 miljoen begroot, wat oorwegend uit MIG toelaes befonds word. Hiervan is die grootste hap die Piesanghoek na Khunda pad in ‘n landelike gedeelte wat nasionale belastingbetalers R11,5 miljoen uit die sak jaag. Ander toegangspaaie wat die Raad wil rehabiliteer is die Mphaila toegangspad en brug (R7,9 miljoen), Sereni na Mashamba Poskantoor (R7 miljoen) en die Tshivulana na Tshilaphala (R6,5 miljoen).
Strate wat in die tou staan vir rehabilitasie, herstel, of bou is Waterval se strate (R8,5 miljoen), Eltivillas besigheidsgebied (R6,6 miljoen), Eltivillas uitbreiding 1 (R5,3 miljoen) en Tshikota (R1,7 miljoen). Krogh-, Jeppe- en Krugerstraat in Makhado (Louis Trichardt) word teen R6,4 miljoen herseël vanuit bedryfsinkomste. ‘n Nuwe munisipale stortingsterrein word uit MIG fondse ontwikkel en daarvoor is R3 miljoen vir 2013/2014 begroot en R1,5 miljoen vir die daaropvolgende boekjaar.
Dzanani en Waterval kry gemeenskapsale teen R8,5 miljoen en R5,8 miljoen onderskeidelik. Die sale sou die vorige boekjaar gebou gewees het vir R3 miljoen elk.
Die Raad het R27,47 miljoen vir die elektriese ingenieursafdeling begroot, waarvan R15 miljoen deur INEP befonds word vir elektrifisering in Eskom areas en die res eie inkomste as bron het. Sommige van die projekte is die opgradering van die industriële lyn (R1,5 miljoen), die opgradering van die berglyn (R1,25 miljoen), die herstel van twee 10MVA transformators (R1 miljoen) en kabels in die stedelike netwerk (R1 miljoen). Vir die munisipale vliegveld is R700 000 begroot vir landingsligte.
Afvalbestuur het verder ‘n eie begroting van R5,5 miljoen, waarvan R2,5 miljoen aan die rehabilitasie van die ou stortingsterrein bestee sal word en R3 miljoen aan ‘n afval kompakteermasjien.
Die munisipale swembad in Makhado (Louis Trichardt) benodig herstel en opgradering. Daarvoor is R500 000 begroot.
Die gemeenskapsdienste-afdeling se begroting vir kapitale projekte is R3 405 500. Die Makhado verkeer- en toetsstasie kry 'n administratiewe blok teen R1 miljoen, die beskermingsdienste benodig R900 000 vir geslote-baan kameras vir toesig en die burgemeester ‘n voertuig teen R900 000. Verder gaan die waterdienste by die munisipale skut opgegradeer word teen R60 000.
Die munisipale inbelsentrum gaan teen R300 000 opgegradeer word, wat hopelik die klagtes vinniger by die regte persoon sal uitbring. Hierdie sentrum val onder korporatiewe dienste met ‘n begroting van R1,13 miljoen. Daar is ook R500 000 begroot vir die aankoop van kantoormeubels vir die munisipaliteit.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
