ADVERTISEMENT:

 

Die bakkie en sleepwa soos wat dit langs die pad tot stilstand geskuur het. Foto verskaf.

Ongeluk gee haar nuwe perspektief

 

News  Date: 21 June 2013

 

Die ongeluk wat so maklik noodlottige gevolge vir haar en haar vriendin kon gehad het, het vir haar nuwe perspektief op die lewe gegee.

“Jy is net weer dankbaar jy lewe”. So vertel die 57-jarige mev. Marietjie Barkhuizen van Makhado (Louis Trichardt). Sy het Woensdagoggend, presies ‘n week na haar en haar vriendin mev. Ansu van Staden (44) se motorongeluk, weer die gebeure herleef.

“Ek begin sommer weer bewe as ek daaraan dink,” sê Marietjie.

Die twee het vroeg verlede Woensdag die wildsleepwa agter die bakkie gehak en was onderweg na Ansu-hulle se plaas by Alldays om ‘n swartwitpens te gaan laai wat hulle verkoop het. Sowat 10 kilometer vanaf Musina het die noodlot egter toegeslaan.

“Ansu het skielik net gesê sy het nie meer beheer oor die bakkie nie,” onthou Marietjie. Die bakkie het heen en weer oor die pad begin swaai. Blykbaar het die gewig van die sleepwa op ‘n afdraande die bakkie buite beheer begin druk.

“Toe sê sy: ‘Marietjie, ons het moeilikheid!’ en die volgende oomblik begin ons rol ... ‘n slag, weer ‘n slag en weer ‘n slag ... dit het soos ‘n ewigheid gevoel,” sê Marietjie.

Die bakkie het op sy sy tot stilstand geskuur.

“...toe ons tot stilstand kom, sê Ansu: ‘Marietjie, jy is bo-op my'. Ons albei was erg gedisoriënteerd en die kajuit was so verwronge dat ons nie kon uitkom nie,” sê Marietjie. Die grootste skok het egter gekom toe sy vir Ansu, wie se voete onder die pedale vasgepen was, regop trek.

“Sy het my gevra om haar op te help, want haar kop bloei baie. Toe ek haar optrek, sien ek net die wit van die kopbeen,” sê Marietjie. Sy het dadelik haar baadjie uitgepluk en dit oor Ansu se kop gedraai om die bloeding te probeer stop. Gelukkig was Marietjie se besering gering, wat haar in staat gestel het om Ansu te help.

“Ek het die voorruit met my voet begin skop, maar daar het niks gebeur nie. Skielik toe ek opkyk, staan daar ‘n vrou voor my buite die bakkie. Ek het vir haar geskreeu om ‘n klip te soek om die ruit van buite te probeer oopkap,” sê Marietjie. Haar grootste vrees in daardie stadium was ‘n brand, want diesel het orals uit die bakkie begin uitloop, ook uit die twee dieseldromme wat agterop die bak was. Die vrou wat Marietjie gesien het was Celente Ellis, wat saam met haar vriendin, Carinne Nel, op pad was vanaf Musina na Makhado (Louis Trichardt).

Intussen het ‘n man ook vir Marietjie te hulp gesnel. Hy het ‘n koevoet deur die ruit geslaan en soos wat hy die ruit na buite gedwing het, het Marietjie van binne geskop. Nog twee mans het aangehardloop gekom en in ‘n spanpoging kon hulle die voorruit  oopforseer.

“Toe ek vir Ansu uit die bakkie het, toe lyk dit soos ‘n emmer bloed wat iemand oor haar kop uitgegooi het soos sy gebloei het,” sê Marietjie.

Celente en Carinne het dadelik vir Marietjie en Ansu in hul kar gelaai en deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal. “Ons het vooruit gebel. Langs die pad is die ambulanse verby ons, maar ons het nie gestop nie,” sê Marietjie.

By die hospitaal aangekom is Ansu gestabiliseer en oorgeplaas na die MediClinic in Polokwane. Marietjie is vir skok en geringe beserings behandel en ontslaan, ondermeer vir ‘n enkelbesering wat sy opgedoen het toe sy die venster probeer uitskop het.

Ansu het 'n erge kopbesering opgedoen. ‘n Groot deel van haar kopvel is gesny en oopgeruk. In die proses is die senuwees oor haar linkeroor afgesny.

“Die slagaar oor haar slaap was geskraap, so naby aan die dood was sy. Die dokters het vir my gesê dat sou die slagaar oopgeruk gewees het, Ansu daar langs my sou doodgebloei het sonder dat ek enige iets kon doen,” sê Marietjie.

Ansu is Saterdag ontslaan, maar is Woensdagoggend weer opgeneem ná komplikasies ingetree het. "Sy moet later plastiese chirurgie ondergaan om die skade aan haar gesig te herstel, maar vir eers probeer die dokters net eers die infeksie keer,” sê Marietjie.

Die ongeluk, sê Marietjie, het haar weereens laat besef dat die Here mens partykeer op die vreemdste manier gebruik, selfs te midde van teenspoed. “As ek ook so seer gekry het soos Ansu, sou ek haar nie kon help nie en as ek nie saam met haar was nie, kon ek haar ook nie help nie,” sê Marietjie. Sy het oneindige dank uitgespreek teenoor die mense wat hulle op die toneel gehelp het, soos Celente en Carinne, die onbekende mans, die vrou wat agtergebly het by die wrak om hul goed op te pas en self dr. Emile Gaigher en hospitaalpersoneel wat vir hulle op die stoep gewag het. Haar grootste bekommernis bly egter haar vriendin.

“Ek is fine ... Ansu het baie seer gekry, maar ons glo sy sal ten volle herstel,” sê Marietjie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines