ADVERTISEMENT:

 

Celia Guillaume staan met een van die stukke bloudraad waarmee sy vasgebind was.

"Ons gaan jou vir muti verkoop"

 

News  Date: 25 June 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - "Dit was so brutaal, so brutaal ..." sê 'n verwese Celia Guillaume na 'n wrede plaasaanval op haar en haar vriendin verlede week.

"Hulle het my kaal uitgetrek en my aanmekaar geslaan. Hulle het my hande en voete met bloudraad aanmekaar vasgemaak. Hulle het vir my gesê dat hulle my gaan opsny en my dele vir muti verkoop," herleef die 43-jarige Celia weer die skokgebeure.

Op Dinsdag (15de), omstreeks 21:15 is Celia en haar vriendin, Marietjie du Toit (54), in Celia se huis op die plaas Geluk op die Witvlagpad oorrompel deur vier gevoellose aanvallers. Beide vroue is vir byna drie ure lank getreiter en mishandel. Die hele inhoud van die huis is op die vloere uitgegooi. Marietjie sê dat hulle vinnig en geluidloos gewerk het soos ervare, professionele rowers. Die misdadigers het met Celia se bakkie weggery met R160 000 se huisware - hoofsaaklik elektriese toestelle - en R15 000 kontant.

"Ek is gevra om 'n lysie op te stel van alles wat ek verloor het, maar bo-aan daardie lysie wil ek skryf 'gemoedsrus'. My gemoedsrus is van my gesteel," sê Celia. Sy het nog nie weer kans gesien om in haar huis te oornag nie en slaap by haar ouers, mnr. en mev. Bertie en Erda Guillaume, welbekende Cliviaboere van die streek.

"My grootste probleem was om te oorleef. Hulle het my in die badkamer gegooi en my gesig vasgebind met 'n wolhaarserp. Die bloed aan my gesig het in my neus gekom en my feitlik versmoor…," sê Celia, vir wie elke beweging steeds pynlik is. Sy het verskriklike merke oor haar hele liggaam, veral oor haar bolyf, wat stukkend geslaan is.

Marietjie is op haar beurt in haar slaapkamer met 'n elektriese koord vasgemaak. In die struweling is haar vingers gebreek. Haar nagklere is afgeskeur om haar oë mee toe te bind.

"Hulle het my op die bed gegooi en gesê dat hulle my gaan verkrag," sê Marietjie.

Nadat die booswigte die huis verlaat het, het Marietjie genadiglik daarin geslaag om haarself los te kry en het sy vir Celia gaan bevry. Die twee het teen omstreeks 12:45 op 'n motorfiets gejaag na die plaas van Bertus Guillaume, Celia se broer. Daar het Bertus se vrou, Elmien, die twee geskokte slagoffers se wonde versorg, terwyl Bertus die plaas buurtwag, kommando en polisie ontbied het.

Die reaksie was ongelooflik vinnig en teen 01:15 die oggend van die 16de het dit gewemel van polisiemanne en buurtwagmans, en is die bakkie teruggevind.

"Ek is so dankbaar vir die polisie se vinnige reaksie. Ek sê spesiaal dankie aan die mans van die plaaswag wat kom help het, en aan hulle vrouens en kinders wat hulle toegelaat het om hulself in gevaar te stel deur ons te kom help." Celia het dit sterk beklemtoon dat dit net die Here se genade is dat hulle leef en nie verkrag is nie.

Celia en Marietjie sê dat twee van die aanvallers Engels gepraat het en twee Venda. Op 'n uitkenningsparade die naweek was die aanvallers nie onder die groep nie.

"Ek sal daardie twee gesigte weer herken," het Marietjie gesê, omdat hulle gelaatstrekke in haar geheue ingebrand is tydens die trauma.

'n Plaaswerker se vingerafdrukke is op die bakkie gevind. Hy is saam met 'n ander verdagte gearresteer, maar weer vrygelaat weens 'onvoldoende getuienis'. Die betrokke werker het hierdie week weer opgedaag vir werk, maar sy dienste is opgeskort, hangende die ondersoek. Die modus operandi van 'n misdaadsindikaat is dikwels om van 'n werker gebruik te maak om al die nodige inligting te bekom.

Celia se pa, mnr. Bertie Guillaume, het hierdie week gesê: "Twee verdagtes is gevang, maar weer losgelaat. Dit is onaanvaarbaar. Ons hoop en bid nou net dat die verdagtes aangekeer sal word. Ek wil ook net al die magte bedank vir hulle oorweldigende en vinnige reaksie daardie oggend."

Inspekteur Daniel Ndlovu van die plaaslike SAPD het Woensdag dié week gesê dat 'n saak van gewapende roof geopen is, maar teen druktyd is nog geen verdere arrestasies gemaak nie.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines