

ADVERTISEMENT:

News Date: 31 May 2002
LOUIS TRICHARDT - Mnr Johan de Necker, bestuurder van 'n bekende hotelgroep, het as barmhartige Samaritaan dit op hom geneem om die vele toeriste en besoekers uit Zimbabwe te beskerm teen die korrupte kitsboetes van plaaslike verkeersbeamptes.
Hy verskaf op eie onkoste aan elke Zimbabwiër wat by sy hotel aankom, 'n afskrif van die berig oor korrupsie by verkeersbeamptes wat in die Zoutpansberger van 10 Mei verskyn het.
Mnr Vic Viljoen, hoof van Beskermingsdienste van die Makhado Munisipaliteit sê dat dit moeilik is om klagtes te ondersoek waar daar net 'n vae beskrying van die amptenaar se voorkoms gegee word. Verkieslik moet die amptenaar se naam, voertuigregistrasienommer en voldoende feite verskaf word. Zimbabwiërs word ook daaraan herinner om 'n kriminele klag te lê wanneer hulle omkopery ondervind.
Met verwysing na die klagte van mnr. Boet Schoeman van Harare wat op 25 April 'n kitsboete aan 'n plaaslike verkeersbeampte betaal het, sê mnr. Viljoen dat daardie klagte saam met verskeie ander klagtes gevoeg is tot een verslag. Die verklarings van die amptenare is ook afgeneem. Die Munisipale Bestuurder sal nou 'n ondersoekbeampte aanwys in terme van die Raad se diensvoorwaardes en die arbeidswetgewing. Hy kon nie sê hoeveel amptenare betrokke is en hoe lank die ondersoek gaan duur nie.
Mnr. Koos Brits, Superintendent van Verkeer van die Makhado Munisipaliteit het bevestig dat buiten die munisipale verkeersbeampte(s) daar ook provinsiale beamptes betrokke is. Hy sê dat die aantal klagtes wat inkom, heelwat afgeneem het, alhoewel daar nog steeds klagtes inkom.
Mnr. De Necker het ondervind dat vandat hy die besoekers uit Zimbabwe onder sy vlerk neem en waarsku, nog nie een weer kom kla het oor kitsboetes nie. Hy het wel die geval gehad waar 'n mnr. Van Rensburg, 'n bekende hoteleienaar in Zimbabwe, 'n onaangename ondervinding gehad het in Louis Trichardt by 'n kitsbank. Sondagaand, 19 Mei het mnr. Van Rensburg 'n noue ontkoming gehad toe rowers op hom toegesak het, nadat hy by 'n kitsbank geld onttrek het. Gelukkig het hy eerste by sy motor aangekom, ingespring en weggejaag.

ADVERTISEMENT:
