

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 July 2003
MOPANE – 'n "Alternatiewe" roete na Musina waardeur die omstrede tolhek uitgesny word, het gereelde padgebruikers die afgelope week aan die gons. Motoriste wat die roete gebruik, spaar nie net aan die R19 en meer tolgeld wat gehef word nie, maar steun die protesaksie van georganiseerde landbou teen die Nasionale Padagentskap.
Die klein entjie grondpad wat die afgelope week die nasionale nuusbulletins gehaal het, loop deur 'n plaas wat grens aan die tolplaza. Die afdraaipad is net suid van die tolhek by 'n bestaande groen hek, naby die veelvuldige geel waarskuwingsligte van die plaza. Motoriste wat hier afdraai eindig 'n paar honderd meter verder by nog 'n plaashek wat toegang gee tot 'n bestaande plaaspad. Dié pad sluit weer aan by die Bokmakieriekruising. Die hekoopmaker beman 'n spaza-koeldrankstalletjie by die private deurgangshek en vir slegs R5 kan motoriste 'n koeldrank koop, terwyl die hek ook oopgemaak word.
Dit blyk egter dat dié roete veel meer is as 'n slim set van 'n verbeeldingryke entrepreneur. Georganiseerde landbou het skerp te velde getrek teen die tolpad en die beweerde gebrek aan konsultasie met die plaaslike gemeenskappe.
"Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (NPA) is opvallend nie ernstig oor padveiligheid en oor billike behandeling van tolpadgebruikers nie. Hul hantering van die wettige griewe van belanghebbendes en van swaar voertuigbestuurders oor die Soutpansberg, maak 'n bespotting van die Arrive Alive veldtog. Die verpligte gebruik van die onvoltooide bergpad het reeds lewensverlies, ernstige ongerief en derduisende rande aan voertuig- en vragskade tot gevolg gehad." So sê die voorsitter van die Mopane Boerevereniging, mnr. Eben de Bruin. Hy is genader vir kommentaar na aanleiding van uitkringende ontevredenheid oor die nuwe tolhek by die Kremetart Tolplaza op die onvoltooide N1 tolpad tussen Louis Trichardt en Musina.
Die amptelike tolhek by die nuwe tolplaza is stil-stil in werking gestel, terwyl twee van die drie padboukontrakte op die betrokke tolpad nog aan die gang is en terwyl belanghebbendes, wat nog wag vir antwoorde op hul besware oor die beoogde tariewe, blatant geïgnoreer is. 'n Vergadering, wat teen hoë koste en moeite in oorleg met die NPA se amptelike agent deur belanghebbendes vir 30 Mei gereël is, is ter elfder ure eensydig deur die NPA afgelas.
Mnr. De Bruin sê motoriste wat nie genoeë neem met die onbillike en onverantwoordelike optrede van die NPA nie, kan van die bestaande alternatiewe roete by die tolhek gebruik maak. Hy sê die stap is genoodsaak deur die NPA se onaanvaarbare optrede.
"Ons het uit die staanspoor moeite gedoen om deel van die oplossing te wees in plaas van deel van die probleem te word. Al die tyd en administratiewe moeite en koste wat ons bestee het aan die reël en bywoon van vergaderings, amptelike samesprekings en die skryf van 'n motiveringsbrief, was 'n vermorsing van tyd, as gevolg van die NPA se arrogante Big Brother mentaliteit. Hulle maak net wat hulle wil en steur hulle nie aan die tersaaklike en verantwoordelike insette van belanghebbendes wat die sogenaamde raadplegende vergaderings bywoon nie." Mnr. De Bruin sê dat die NPA nie sy ondernemings teenoor belanghebbendes gestand gedoen het nie en dat van die kontrakteurs wat betrokke was by die padkonstruksie, ook nog aan sommige boere in die omgewing geld skuld. Pogings om kommentaar van die NPA te kry, was nie suksesvol nie. Boodskappe is gelaat by die kantoor van die NPA se senior mediaskakelbeampte, me Judith Annakie-Eriksen, maar teen druktyd was daar geen reaksie nie.

ADVERTISEMENT:
