

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 July 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Terwyl die ouer geslag soms geneig is om eerder na die pen of die swaard te gryp, reik die kinders van die dorp 'n hand van samewerking uit na die Makhado Munisipaliteit.
Die hoof verenigende faktor in hierdie geval is die besorgdheid oor die bome van die dorp. Dertig vrywilligers van drie skole het die yskoue weer op Woensdag, 25 Junie, getrotseer en goiingsakke met tou om bome gebind in 'n poging om die bome te red van termietinfestasie. Daarna is 'n afvaardiging saamgestel om met die munisipaliteit in gesprek te tree. Die afvaardiging is verteenwoordigend van die drie skole wat saamwerk, naamlik Ridgeway College, Ridgeway Independent Skool en Hoërskool Louis Trichardt.
Die kinders, bygestaan deur mnr. Jan de Bruyn, beheerraadslid van Ridgeway College, het die Direkteur: Tegniese Dienste, mnr. Mapholi ontmoet op 25 Junie. Mnr. Mapholi was baie opgewonde oor die kinders se betrokkenheid. Hy het ook 'n positiewe reaksie getoon teenoor hulle standpunt van bestryding van termiete deur middel van nie-chemiese metodes.
Die hand van samewerking is nog verder uitgereik ten tye van 'n opvolgvergadering op 26 Junie. Mnr. De Bruyn het verwys na Ridgeway College se beoogde gemeenskapsprojekte op Vrydagmiddae wat ook bome plant en die skoonmaak van damme en terreine sou kon insluit. Mev. Magda van Staden, wat ressorteer onder die Tegniese Departement: Siviel, het haar waardering uitgespreek vir die betrokkenheid van die gemeenskap by die omgewing. Sy het ook haar afdeling se groot behoefte aan hulp met die park noord van Stubbstraat en oos van Rivierstraat uitgespreek.
Mev. Van Staden het gesê dat bome aan skole beskikbaar gestel kan word vir aanplanting, veral met Boomplantweek, wat die eerste week in September plaasvind. Vanjaar se algemene boom van die jaar is die bostaaibos (Rhus chirendensis) en die skaarser boom is die kiaat (Pterocarpus angolensis). Wat die termietplaag betref, is daar ook tot 'n vergelyk gekom. Die munisipaliteit gaan voort met hul program om werkers te kwalifiseer as termietgif bespuiters, asook hul boom bespuitingsprogram, wat hopelik in Julie 'n aanvang sal neem. Mev. Van Staden het gesê dat dit die eerste keer is wat die bome vir termiete bespuit sal word sedert 2000. Gegewens vóór 2000 was nie beskikbaar nie. Die kinders kan 'n voorlegging maak indien hulle sekere bome in hul eksperiment wil gebruik.
Dié geesdriftige groepie boomliefhebbers het intussen op nog 'n ekonomiese bestrydingsmetode afgekom. Hul woordvoerder, Melanie Jansen, vertel: "Ons neem een deel boraks en een deel strooisuiker om die termiete te bestry. Dit maak hulle dood en hulle dra dit ook af na hulle koningin. Die res van die ekosisteem word nie benadeel nie." Hierdie eksperiment is nog in die beginfase en die beplanning is om sestig bome daarmee te behandel.
Diegene wat by die Red ons Bome- projek betrokke wil raak, kan mnr. Jan de Bruyn skakel by 082 209 1828.

ADVERTISEMENT:
