ADVERTISEMENT:

 

Dok Lappies oorleef motorfietsbotsing met bees

 

News  Date: 04 July 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Dr. Lappies Labuschagné was baie gelukkig om redelik ongedeerd daarvan af te kom, nadat hy met sy motorfiets teen 'n rondloperbees gebots het op die Vivo-pad op Saterdag, 28 Junie.

Die ongeluk het omstreeks 08:30 plaasgevind op die lang reguit stuk pad net anderkant Ottoshoogte. Dr. Labuschagné was op pad van sy plaas na sy spreekkamer.

"Die beeste loop al drie maande los op daardie pad rond en die tamboekiegras is twee meter hoog en groei tot teen die pad. Skielik het daar reg voor my uit die gras 'n bees te voorskyn gekom. Ek het hom getref teen 160 km per uur," vertel 'n erg gekneusde dr. Lappies.

Hy kan nie die botsing onthou nie, maar duidelik in sy geheue ingeprent is sy 110-meter lange rol en tuimel oor die teerpad.

"Jy hoor die spoed waarteen jy rol, jy voel dit nie," sê dr. Lappies. Sy spesiale Gortex baadjie en ander leerklerasie het hom baie beskerm in die rol. Hy sê dat hy gelukkig was om nie teen 'n soliede voorwerp te bots nie, want dan sou sy ingewande alles onmiddellik oopgebars het. Dr. Lappies het kneusings oor sy hele liggaam, 'n paar skrape en 'n klein fraktuur aan die regterenkel oorgehou van die ongeluk.

Dr. Labuschagné het 'n tydjie gelede al met 'n verkeersman langs die pad gaan praat oor die rondloperbeeste. Die ongeërgde antwoord was dat hulle nie weet wie se beeste dit is nie en dat daar nie langer 'n skut bestaan nie.

Die beeste wat los rondloop en die lang gras langs die pad, het amper veroorsaak dat die dorp nog 'n dokter verloor het.

"Ek kan nie glo dat ek lewe nie. Sê net vir hulle om daardie gras te sny," was die pleidooi van dr. Labuschagné.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines