

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 July 2013
Die Zoutpansberger het verlede week die kans gehad om ‘n ondersoekspan te volg en te kyk hoe hulle tewerk gaan om bewysstukke uit ‘n renosterkarkas te haal.
Dié span ondersoek die dood van ‘n witrenosterkoei wat verlede Maandag op die Nwanedi Natuurreservaat in die Tshipise-omgewing doodgeskiet is vir haar horings. Haar maand-oue kalfie is deur die stropers agtergelaat om te vrek. Die kalfie word tans versorg by The Rhino Orphanage naby Mokopane.
Met die hulp van ‘n metaalverklikker is daar vinnig agtergekom dat daar nog ‘n koeël in die karkas van die koei was. Voor ‘n staatsveearts egter met die nadoodse ondersoek kon begin, is die hele misdaadtoneel eers deeglik gefotografeer. Daar is ook DNS-monsters van die renosterkoei geneem deur ‘n stukkie van haar oor en haar toonnael af te sny.
Die polisie se forensiese deskundiges het hierna die veearts bygestaan terwyl hy die koeël uit die koei se karkas gehaal het. Vanweë ‘n enkele bladskoot het die koeël deur die koei se ribbekas getrek en naby haar hart vasgesit.
‘n Koeël van 'n .458-jaggeweer is uitgehaal. “Mens kan amper die punt gebruik om te herlaai, in so 'n goeie toestand is hy,” het een van die ondersoekspan se lede gesê. Vir die span is dit goeie nuus, want dit beteken dat die koeël dalk maklik met die wapen, indien dit gevind word, sal ooreenstem.
DNS-monsters sal aangeteken word in die nasionale renoster DNS-databasis wat by Onderstepoort gehou word. Sodoende kan polisie dalk ander bewysstukke, soos ‘n byl, positief verbind met ‘n dooie renoster, of selfs as daar op renosterhorings beslag gelê word, kan dit ook verbind word met ‘n spesifieke renoster.
Teen druktyd was die polisie in Musina nog besig om die saak te ondersoek en is geen arrestasies gemaak nie.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
