

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 July 2013
Nog vier ure later en die renosterkalfie wat verlede week by die Nwanedi Natuurreservaat gered is, sou dood gewees het.
So het die bestuurder van ‘n renoster weeshuis, me. Karen Trendler, vertel kort nadat hulle die kalfie onder hulle beskerming ingeneem het. Sy is die bestuurder van The Rhino Orphanage buite Mokopane.
Trendler het verlede Vrydag met die Zoutpansberger gepraat oor die kalfie, wat hulle intussen Pemba gedoop het.
Pemba se ma is verlede week deur stropers afgemaai vir haar horings op die reservaat in die Tshipise-omgewing. Natuurbewaarders en polisielede het op Pemba afgekom waar hy by sy ma se karkas staan en treur het. Hy het by tye haar droë bloed opgelek.
Trendler het gesê dat as dit nie vir Pemba se weldoeners se vinnig reaksie was nie, hy beslis nie sou deurgetrek het nie. “Hulle het deurnag gewerk om hom betyds by ons te kry,” het sy gesê. “Hy [Pemba] was erg ontwater gewees en ons het hom dadelik op ‘n drip gesit,” het Trendler verlede Vrydag gesê.
Teen Maandag het dit heelwat beter gegaan met die kalfie. Trendler het gesê hy was ‘n bietjie koliekerig gewees oor die naweek, maar teen Maandag het hy sy kos ingehou en kon daar met veiligheid gesê word dat hy sal oorleef.
The Rhino Orphanage is geleë op die Legends Golf & Safari-reservaat buite Mokopane. Dié nie-kommersiële sorgsentrum, die eerste van sy soort in die land, beywer hom vir die versorging van renosterkalfies wat wees gelaat word. Trendler is ook die koördineerder van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe se Renoster Reaksie Strategie-projek. Sy het al reeds 25 jaar ondervinding in die versorging van renosters en het al 200 renosterkalwers grootgemaak en net soveel beseerde renosters behandel.
Teen druktyd kon Trendler egter nie verdere besonderhede oor Pemba uitgee nie, omdat twee van die reservaat se renosters van die jongste slagoffers geword het van stropers. Veiligheidsmaatreëls moes inderhaas opgeskerp word op die reservaat.
‘n Renosterbul, wat as ‘n ouer vir die wesies gebruik is, is Saterdag doodgeskiet en sy horings afgekap. Nog ‘n renosterkoei, Nana, wat ‘n surrogaatma was, is ook tydens die voorval geskiet en ernstig beseer. Die bul, Mike, is glo met ‘n swaarkaliber vuurwapen geskiet te midde van streng veiligheidsmaatreëls op die reservaat.
“Dinge is chaoties hier by ons; ons wag nog dat die polisie moet kom en verklarings afneem,” het Trendler Maandag gesê.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
