

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 July 2013
'n Bekende inwoner van Makhado (Louis Trichardt) is in die hoësorgeenheid van ‘n Middelburgse hospitaal opgeneem, nadat hy in ‘n ernstige motorfietsongeluk betrokke was.
Mnr. Dennis Smit het erge kopbeserings opgedoen toe ‘n aankomende voertuig tromp-op in sy splinternuwe BMW-motorfiets vasgejaag het. Die ongeluk het Maandag gebeur op die pad tussen Sabie en Middelburg in Mpumalanga. Die ander voertuig het, na wat verneem word, vir ‘n slaggat uitgeswaai en in Dennis se baan ingery op ‘n blinde draai.
Dennis se vrou, Jana, het dadelik deurgejaag om by hom te wees in die hospitaal. Sy het Dinsdag vanuit Middelburg vertel dat dit onder omstandighede goed gaan met haar man.
“Die polisie het gesê daar was nie ‘n ander alternatief vir Dennis nie, hy kon nie uitswaai vir die aankomende kar nie,” het Jana gesê.
Dennis se hoofbeserings het veroorsaak dat hy Maandagaand in ‘n ligte koma was. Hy het Dinsdag weer bygekom en het so 'n klein bietjie begin kommunikeer. “Alles is nog bietjie deurmekaar. Sy regteroog wil byvoorbeeld nie toemaak nie, maar ons sal nog sien hoe lyk dinge bietjie later,” het Jana gesê.
Verder het Dennis baie skrape opgedoen. Wonderbaarlik, het Jana vertel, het hy geen bene gebreek nie, maar sy valhelm en oorpak het verskriklik gelyk. Sy motorfiets is reeds geskrap. Hy het die motorfiets maar twee weke gehad.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
