ADVERTISEMENT:

 

Goingsakke 'n teenvoeter vir termiete

 

News  Date: 27 June 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – "Kyk, dit werk !" Dit was die opgewonde uitroep van diegene wat die redding van die dorp se bome op die hart dra. Die eksperiment met die goiingsak werk en termietaktiwiteit in die 'behandelde' bome kom tot stilstand.

Die Red ons Bome-projek is op 27 Mei deur Ridgeway Kollege van stapel gestuur. Leerders het begin om stroke goiingsak met tou om die stamme van erg besmette bome vas te bind. Die projek het ook die verbeelding van ander skole begin aangryp. Mnr. Martin van der Linde, hoof van Ridgeway Kollege, sê dat Ridgeway Independent School en Hoërskool Louis Trichardt ook gaan hande vat om die bome te red van verwoesting deur termiete.

Hierdie week is die blye ontdekking gemaak dat die boomstamme met die goiingsakke om nie meer termietaktiwiteit toon nie. Mnr. Jan de Bruin, beheerraadslid van Ridgeway Kollege en Melanie Jansen, boomliefhebber en Graad 11-leerder van Hoërskool Louis Trichardt, het die voorlopige bevindinge bekendgemaak. Hulle het een van die bome in Andersonstraat met twee hooftakke deeglik bestudeer. Die termiete bó die goiingsak het hul tonnels verlaat en in die goiing verstrengel geraak en gesterf. Die termiete onderkant die goiing kon nie verder boontoe nie en het afgeklim na onder en eerder die tak sonder die goiing aangeval. Nadat die goiing verskuif is na die ander tak, is termietaktiwiteit weer daar gestaak en het terug beweeg na die vorige tak wat sonder goiing gelaat is. "Ons kan al die bome in ons dorp red as ons goiingsak om elke boomstam sit," sê 'n opgewonde Melanie, wat dit haar beroep wil maak om woude en bome te beskerm en te bestudeer. Sy sê dat sy nie 'n voorstander is van chemiese bestrydingsmiddels nie, omdat dit die ekosisteem nadelig kan affekteer.

Die metode van die goiingsak en tou het Ridgeway Kollege van 'n boomkundige en direkteur van Tree South Africa in Stellenbosch, mnr. Willems bekom. Willems spesialiseer in boomversorging en pesbestryding in stedelike gebiede en hy was geskok om te hoor dat soveel bome in Makhado (Louis Trichardt) met termiete besmet is.

Mnr. Mapholi, Direkteur van Tegniese Dienste van die Makhado Munisipaliteit, het Dinsdag gesê dat hy nie persoonlik bewus is van die termietplaag nie, maar dat die Parkeafdeling inligting kan verstrek. Hy was verheug om te hoor van die projek wat onder die skoolkinders aan die gang is en het sy waardering daarvoor uitgespreek.

Mev. Magda van Staden, hoof van die Parkeafdeling wat resorteer onder die Tegniese Departement: Siviel, het gesê dat hulle bewus is van die termietplaag in die bome. 'n Toepaslike gifstof is reeds aangekoop. Dit staan egter in die store totdat die personeel die nodige kwalifikasie bekom om die betrokke gif te mag spuit. Die Parkeafdeling is tans besig om te reël vir die opleiding van die werkers. "Ons beoog om die opleiding voor einde Julie afgehandel te hê," het mev. Van Staden gesê. Sy sê dat 'n program van bespuiting daarna geloods sal word. Mnr. Jan de Bruyn het sy waardering uitgespreek dat die munisipaliteit aandag gee aan die termietplaag. De Bruyn het gesê dat die lede van die Red ons Bome-projek uitsien na gesprekvoering en samewerking met die munisipaliteit ook ten opsigte van nie-chemiese bestrydingsmetodes. Hy is ook opgewonde oor die samewerking van verskillende skole ten opsigte van die goiingsakbehandeling.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines